MANNA IN DIE BLOEKOMBOS

 


DIE BLOEKOMBOS WAS ONS KLEINTYD SPEELPLEK, BIDPLEK EN soms n HUIL PLEK NA N PAK SLAE. Daar in die bloekombos langs die watervoortjie het ons ure om gespeel. Ons het nooit baie speelgoed gehad nie. Stokkies en mooi klippies was ons speelgoedjies. Daar op die kante van die watervoortjie het ons klein plasies uitgele. n Groot klip was die plaashuis en die paadjie tot by die plaashuis het ons met klein klippies uitgele.  Die kraal het ons met stokkies en bloekombas gebou en die vrugtebome was appelkoospitte.  Heen en weer het ons gespring oor die watervoortjie om die plaas daar tussen die wortels van die bloekombome uit te le. Vir dae het my ma nie geweet van ons nie.  Soms moes sy iemand stuur om ons te kom roep om te kom eet.

Saens as die son so sak daar onder die Steenkampsberge dan loop my oupa so hinke pinke om die hoek van die huis na die bloekombos toe.  Soos stertjies is ons almal agterna en daar in die bloekombos maak hy vir ons elkeen n plekkie tussen die blare en die bas om ons koppe op die grond neer te druk ... want dit is hoe n mens bid.  Mens bid in eerbied en jy buig jou kop laag op die grond uit eerbied vir God wat jou nog n dag staande gehou het. So leer oupa ons bid en as ons klaar is tel hy ons op ... een op sy rug en een op sy heup en dan sing hy:  "die sieke dra die gesonde ... die sieke dra die gesonde".  By die plat klip voor die voordeur haal hy n handvol goudgeel droe perskes uit en stamp dit plat vir klein tandjies en handjies en lekkerder eet. Oupa Nollie het my geleer om te bid en te glo in n God wat so goed is en getrou is soos die son wat elke dag daar onder die Steenkampsberge goudgeel sak.

Soms as ons stout was ... stout soos parmantig of teepraterig ... het die hale vinnig en gou geval op kaal bene en boude. Die riwwe het later dik gele op kaal plekke en dan was die manna daar tussen die bloekombome n soete vertroosting vir n gebroke hart!

Comments

Popular Posts