DIE EENDE VIR KERSFEES
Ons het nog in die ander huis gebly.  In oom Sam en tant Lettie se huis.  Dit was voor my ouma siek geword het.  Ons moes my ouma se eende mark toe vat in Pretoria.  My pa het gevra wie wil saamgaan en soos altyd was my hand eerste op.  Hierdie keer het ek n beurt gekry! 
Laat middag het my pa die eende op die bak gelaai, die kappie opgesit en toe ry ons tot by my tannie op Middelburg.  Hulle het nog in die onder dorp van Middelburg gebly. Dit was voordat hulle in die polisie woonstelle gebly het.  Ek dink daardie nag het niemand in daai straat n oog toegemaak nie. Die een honderd eende was nie vir n oomblik stil nie!
Vroeg die volgende more ry ons Pretoria toe en so agt uur was ons by die mark.  Die eende is gou verkoop en met n vol beursie is my pa en ma die dorp in.  By die O.K was daar n ape orkes op die eerste vloer. Die mense het so drie diep gestaan om te kyk na die wonderwerk.  
Ons het elkeen n Kewpie pop gekry en vir my ander sussie wat by die huis gebly het, was daar n regte slaap pop. N Pop met lang hare en blou oe en oog hare en sowaar regte kousies en skoentjies.
Niemand wou ooit met die kaal Kewpie poppe speel nie.  Die arme slaappop is altyd in alle rigtings getrek want almal wou met haar speel.  Die arme Kewpie poppe het dag uit en dag in ... net gestaar ... emosieloos in die verte gestaar!  Hulle het nooit oe of aa gese nie en hulle het altyd so half geheimsinnig oor ietsie gesmile!
  n Grappie wat net hulle kon hoor ... snaaks ... baie snaaks.

Comments
Post a Comment
COMMENTS