GROOT GAGARE EN KLEIN GAGARETJIE
| This is a representative image |
Groot Gagare was die dapperste man wat ek ooit geken het. Hy was groot en sterk en ek het meer as een keer, met my eie oe gesien, hoe hy n Afrikaner bees in die springdip in stoei op Park. Hy het met almal en alles gestoei. Elke kort-kort het hy by die agterdeur van die huis op Park ogedaag met n gedierte. Dan rol hy die twintig voet luislang uit voor die agterdeur en vertel hoe die luislang gespook het, hoe die slang aan die kant van n klipskeur vasgesuig het, hoe hy bly trek het en hoe die slang uiteindelik in die helfte middeldeur gebreek het en dat dit die resultaat is wat ons hier voor ons sien.
Gagare het sulke groot bonkige sandale van ou motorbande vir homself en vir sy kinders gemaak. Behalwe die sandale het hy feitlik niks anders gedra nie. Hy het van tyd tot tyd n flenter khakibroek gedra en sy enigste ander kledingstuk was sy gevlegde sweep wat altyd oor sy linkerskouer gehang het.
Gagare was my pa se beeswagter. Hy was n uitstaande beeswagter en het die bosveld geken. Hy kon die veld lees. Hy kon vir jou se hoe die wind waai en hoelank terug die luiperd voor jou op die voetpad was. Hy kon vir jou se as hy na die spoor kyk of die luiperd gehardloop het, of dit n luiperd is wat hy ken en of dit n nuwe luiperd is wat ingetrek het.
My pa het twee pikswart labrador honde by die vendusie gekoop - Wagter en Steenkool. Hierdie twee honde het by Gagare groot geword. Hulle kon net Sepedi verstaan. Hierdie twee honde was net so vreesloos soos Gagare wat hulle grootgemaak het. Gagare het altyd gese daar is nie n hond op aarde wat n groot bobbejaan mannetjie kan doodmaak nie maar hierdie twee het letterlik bobbejaanmannetjies vir die sports uit bome gejaag en geeliminate.
Gagare kon met die beeste praat ... ek sweer! Hy was vreesloos. Afrikanerbeeste was van die kwaaiste beeste wat n mens kon kry. As daar so n vol kraal rooi Afrikaner beeste rondmaal en die groot Afrikanerbulle skop skof op, so kwaad is hulle vir die wereld ... wel dan kos dit n groot hart om tussen hulle in te gaan en met hulle te werk. Gagare het net Sepedi met die beeste gepraat en vir die groot Afrikaner bulle wat so stof op skop het hy net gese:"Eya go hlohlona" ... just go away!
Groot Gagare en klein Gagaratjie ... wat sal ek se! Ek wens ek kan net weer een keer pap en sheba eet saam met julle twee in die bhoma voor die agterdeur, op Park. Julle het my lewe verkleur met dapperheid, brute krag, onwrikbare eerlikheid, menslikheid en n kennis van die natuur en dierelewe wat ek tot vandag toe nog onthou!
Comments
Post a Comment
COMMENTS