TANT MARIETJIE MY OUMA SE SUSSIE
| Hierdie is n voorstelling foto |
My ouma het vier sussies gehad en n boetie. Die oudste sussie was tant Anna, dan tant Ellie, dan my ouma dan tant Marietjie dan n jongste boetie, oom Tienie. Een van die tannies kan ek nie onthou nie.
Tant Marietjie was getroud met oom Koos Joubert en hulle het geboer op n groot saaiplaas daar anderkant Stoffberg. Hulle het ook n groot skaapplaas op die berge gehad nie ver van "Witpoort" af nie en die plaas se naam was "Witbooi". Oom Koos is in n vrats ongeluk op die plaas dood en sy het vroeg in haar lewe n weduwee geword.
Tant Marietjie was n opgewekte mens. Vol lag ... vol lewe. Sy was toe alreeds n weduwee toe my ouma maagkanker gekry het en sy by ons kom bly het om my ouma te versorg. My ma was op daardie stdium ver verwagtend met my jongste sussie en elke dag moes my ouma gebad word, skoon aangetrek word, haar hare moes gekam word, sy moes gevoer word want sy kon nie meer self eet of drink nie en dit het my ma alles gedoen. Ons huis was in daardie lang maande van my ouma se siekte tot oorlopens toe vol van familielede wat van heinde en verre af gekom het om my ouma te besoek. Vir al daardie mense moes kos gemaak word, tee gemaak word, slaapplek gegee word en dit alles het my ma gedoen sonder om een dag n woord te se.
Tant Marietjie het almal geselskap gehou, gelag en gesels. Vrolik geflits van een groep na die ander. Kort rukkies by my ouma gesit, maar van hand by sit met die vele take wat gedoen moes word was daar nie veel getuienis nie. My ouma is in Februarie oorlede en teen die einde was dit vir my ma te swaar om my ouma te bad, aan te trek, om te draai en te versorg en toe tant Marietjie aanbied om oor te neem begin my siek ouma hartstogtelik huil: "Hannie se sy ... wil jy my nou hier op die einde weg gooi?" vra sy met haar groen oe vol trane.
Miskien was tant Marietjie te flikkerig en flitserig en miskien kon my ouma in haar diep beproewing dit aanvoel ... dis maar wat ek dink!
Comments
Post a Comment
COMMENTS