OOM FICK EN TANNIE FICK

 

Hierdie is n voorstelling foto



Hulle het eers daar doer agter die berge gebly
en as dit gereen het was hulle vas daar agter die berge en dan het niemand hulle gesien nie. Nie vir maande gesien nie.  Daar was oom Fick, tannie Fick, n groot seun, n groot dogter, n middel seun en n klein Fickie.  Oom Fick het met skape geboer.  Die groot seun en die groot dogter het groot geword sonder dat ek hulle geken het. Ek het net die twee kleiner Fickies geken, want hulle het saam met ons op die skoolbus gery toe oom Fick later jare n huis langs die pad gebou het en nie meer doer agter die berg geboer het nie.

Oom Fick was eers n diaken saam met my pa in die kerk en toe later was hy n ouderling saam met my pa.  Hulle het altyd na kerk so bietjie by ons kom kuier.  Ons het almal altyd so lekker op die stoep gesit en kuier.  Dan maak my ma tee en ons dogters dra melktert en konfyt tertjies aan.  Tannie Fick was n maer, skaam tannie.  Sy het altyd haar kerkhoedjie so saggies en versigtig afgehaal, dan trek sy haar handskoentjies so een vir een versigtig uit en dan sit sy die kerkkhoedjie , die handsakkie en die handskoentjies versigtig op my ma se naaldwerkmasjien neer.  Sy het nooit hard gepraat nie en dit het altyd vir my gelyk of sy nie mooi weet wat om met my ma te gesels nie.  Miskien was sy te lank alleen daar agter die berge en het sy vergeet om te gesels.  Sy was so tevrede met haar lot. Sy het nooit tee gepraat nie en as oom Fick gese het dis nou tyd om te ry het sy weer haar kerk hoedjie opgetel, haar handskoentjies aangetrek en haar handsakkie in die waai van haar linker arm gesit en plegtig gegroet.  
 
Oom Fick was geleerd.  Hy het altyd die slimste goed gese.  Goed wat my pa en ma stom geslaan het en waaraan hulle nog nie eers gedink het of van gehoor het nie.  Hy het gepraat van boeke wat hy gelees het en teoriee wat hy ondersoek het en  ... "boy" hy kon praat hoor!  Hy het ons daar op die stoep vir ure stil gehad met sy bespiegelinge.  Hy was n blink oom.  As daar nou ooit iemand in n goeie kondisie was dan was dit oom Fick.  Sy gesig het altyd geblink en sy gesig was altyd rooi so asof hy altyd gebloos het oor iets wat iemand of iets gedoen of gese het.  Ek het oom Fick altyd so vanuit die verste hoek van die stoep gesit en bekskou en dan dink ek so by myself: "  Oom Fick ek glo nie n woord van wat jy se nie!"

Ek het altyd so binne stemmetjie gehad en daai stemmetjie het my nooit toeglaat om te naby aan oom Fick te kom nie.  Ek het altyd gesorg my ma is naby.  Oom Fick was vir my net te glad en as hy so op n middag alleen kom kuier sonder die tannie en hy bly en hy bly en hy kyk so vir ons vier en vir my ma daar op die stoep en hy se: "  Witpoort se naam moes eintlik Mooimeisiesfontein gewees het - kyk net hoe mooi is julle, al vier van julle en julle mooi ma ... en die mooiste van almal is  ... oe tjorts dan wil ek net by die venster uitspring.  Maar my ma is mooi en my ma is oordentlik en gemanierd en sy weet hoe om gaste te hanteer ... ja, selfs blinker as blink oom Fick!

Comments

Popular Posts