DULLSTROOM

 

Die blou winkel op Dullstroom



N.G. Kerk



Dullstroom stasie




My ouma Ras het op Dullstroom gebly. Ons het elke Sondagmiddag op Dullstroom gaan kuier.  My ouma het met my oupa Blignaut getrou nadat my ma se pa , haar man, oorlede is.  Oupa Blignaut het op die stasie gewerk todat hy afgetree het. Hulle huis was reg agter die stasie en langs die O.T.K. 

Ons het altyd so na middagete op n Sondag, van "Witpoort" af gery en dan was ons net betyds vir koffie en beskuit by ouma Dullstroom.  Dit was altyd koud op Dullstroom.  Soms het ons so aangekom oor die berg dan kon ons sien hoe die hele dorp toegemaak is in n miskombers.  As ons die agterdeur oopstoot kon mens die gloede van die swart koostoof voel. Almal het altyd om die stoof gesit in die kombuis, want die res van die huis was soos n vrieskas. 

My ouma en oupa het op n dik vere bulsak geslaap en onder n tweede vere bulsak.  n Bulsak is n soort vere matras.  My ouma het met ganse geboer.  Sy het die ganse verkoop maar hulle ook twee keer n jaar gepluk en dan die gansdons verkoop. Die gansdons was n baie gesogte item en my ouma het goed geld gemaak met dit.

Soms het my pa vir ons n geldjie gegee om n lekkertjie by Veid se winkel te gaan koop.  Dan het ons al met die stofpad aangeloop, oor die spoorlyn tot by die winkel.  Die winkel was altyd op Sondae oop en Veid en sy vroutjie het altyd agter die toonbank gesit in hulle pajamas.  Dit was so snaaks vir my, maar nou verstaan ek alles.  Dit was hulle regte klere - nie pajamas nie. 

As ons klaar gekuier het, het my pa afgery tot by die onderste winkel, want die kafee het Toffolux gehad. My pa het altyd net een rolletjie gekoop. Hy het die rolletjie stadig oopgemaak en vir elkeen van ons een toffie gegee.  Ek het my toffietjie stadig oopgedraai, by die venster uitgekyk en probeer om die lekkerte in my kies te hou tot op die plaas!



Comments

Popular Posts