"Nyaka"
Op n dag koop my pa twee pikswart boerboel hondjies by die vendusie. Dit is n reun and n teef. Toe hy die boks op die kombuisvloer oopmaak sit die twee daar onder in die boks en kyk met groot sagte bruin oe op na die starende gesiggies rondom die boks. My pa tel hulle voorpote op in sy groot hand en dan se hy met groot trots: "Kyk net hierdie voorpote ... dis mos n bul van n poot die".
Een vir een tel ons die vet swart lyfies op uit die boks en sit hulle voor die koolstoof op n kombersie neer, waar n warm bakkie melk vir elkeen wag. "Moenie te lief word vir hulle nie julle ... dis Gagare se honde die. Dis beeswagter honde". So gebeur dit toe dat Steenkool en Wagter op Park by Gagare groot word en net Sepedi praat. As mens wil he dat hulle die boerbokke moet jaag dan se mens: "Raka die pudi" of as mens wil he hulle moet sit se mens: "Dula". So leer ons om Sepedi te praat want ons twee liefling honde word met Sepedi groot en mooi!
Dit is die dapperste twee honde wat ek in my lewe gesien en geken het. Hulle het nooit, ooit onnodig geblaf nie. As hulle geblaf het moes jy gaan kyk want dan was daar n slang of n ander gevaarte. As ons op Park was het hulle altyd kom kuier en so bietjie op die stoep gele saam met ons, maar Gagare was hulle baas. Hulle was soos sy skaduwee. Hulle het van papbrandsel gelewe, maar hulle was altyd spekvet. Blink vet. As die son so op hulle lywe geskyn het, het hulle so geflikker van goedgeid.
Een oggend vroeg is ons op Park se huis weg met so ses donkies, Gagare, klein Gagaretjie, Jim, my pa, ek en my twee sussies, Wagter en Steenkool. n Hele ekspedisie al met die rivier langs. Die donkies was swaar gelaai met Rumevite, n soort bees lek, en sout want ons was op pad na die beeste toe wat in n kamp so vyftien myl van die plaashuis af was. Die Rumevite en sout lek was n soort van n tonic vir die beeste in die winter, wat hulle kondisie mooi gehou het.
Ons het net so entjie geloop toe hoor ons die bobbejane en toe ons so deur breek af na die rivier toe sien ons n groot trop bobbejane op die rotse in die middel van die Klipspruit rivier. Man ... dit was asof jy petrol op Steenkool se stert gegooi het. Soos n weerligstraal is sy daar in die middel van die trop bobbejane in en sommer gou-gou het hulle twee n groot mannetjie eenkant en toe hy in n groot Maroelaboom op klouter is hulle twee daar. Hulle los hom nie - hulle wil hom nou uit he. Steenkool klim so stukkies, stukkies in die Maroelaboom op en dan skreeu die mannetjie en wys sy groot slag tande. Die twee skrik nie vir bobbejaantande nie. Toe is Gagare by en met klippe begin hulle om die mannetjie bo in die boom by te kom en toe bobbejaan se wereld nou word - spring hy n groot spring om bo-oor die twee boele te spring, maar Wagter gryp hom aan sy nek en net daar onder die Maroelaboom ...
Gagare het later vir ons vertel hoe gevaarlik n bobbejaanmannetjie regtig is. Hy het gese daar is nie n hond wat n bobejaanmannetjie kan dood byt nie want daai slagtande van n bobbejaan kan n hond se kopbeen met heen slag vergruis. Dat Wagter en Steenkool dit kon doen was vir hom en ons almal net n reminder van hulle legendariese status. Wagter en Steenkool ons twee pikswart boerboele wat Sepedi praat, van papbrandsel en dikmelk gelewe het en af en toe n stuk bobbejaanvleis gekry het as bonus! Ek onthou julle en ek eer julle! Ke a le hlompha |
Comments
Post a Comment
COMMENTS