OOM CHRIS EN TANT JOHANNA

 

Hierdie is n voorstelling foto


My pa het altyd winterweiding by oom Chris o' Grady en sy suster tant Johanna gehuur - daar bo op die berge by Tondeldoos. Een maal n maand het hy n sak mieliemeel opgevat na Thomas toe. Thomas was die skaapwagter en hy het daar bo op die berge by die skape gebly. As my pa die skape deurgekyk het, bietjie met Thomas gepraat het, die skape getel het en so aan - dan het ons by Oom Chris en tant Johanna gaan kuier. 

Oom Chris en tant Johanna was boetie en sussie.  Hulle het in n ou vervalle plaashuis gebly aan die einde van n baie lang plaas pad. Om by die plaashuis uit te kom moes mens n baie lang stuk deur n digte bos ry, met bome weerskante van die pad.  Dit was n "scary" stuk pad.  Alles was altyd doodstil as ons so deur die bos ry en dan ewe skierlk het daar n pou op die draad langs die pad gespring en begin skreeu. Ek het altyd gevoel of n koue hand so hier agter teen my rug opvryf as die pou so begin skreeu en ons kom so al nader en nader na die plaashuis toe.

Oom Chris was altyd buite en tant Johanna was altyd binne.  As mens so stop voor die agter deur is oom Chris daar om jou te groet.  Hy was oud en grys maar hy het nog al sy tande gehad en dit was spierwit.  Daar was n trop van omtrent dertig of veertig spierwit hondjies wat al om jou voete gemaal het.  Dit was n soort Engelese Springer Spaniel hondjie - maar almal was wit.  Hulle het nie name gehad nie ... hulle was net hondjies. Dan moet ons inkom en oom Chris is so vriendelik en hy lag en hy gesels en hy is so bly om my pa te sien en as ons inkom in die kombuis is tant Johanna voor die stoof.  Bloedrooi en papnat gesweet voor die koolstoof wat rooi gloei en sy lag en sy gesels en sy is so bly om ons te sien.

Soms kon ons in die sitkamer gaan sit.  Daar was n rottang wiegsstoel in die sitkamer en n gedroogde krokodil wat langs die wiegsstoel op sy maag gele het.  Ek was altyd bang vir die krokodil en die wiegstoel en die donker sitkamer, maar dit was ook half snaaks vir my om te sit en kyk hoe oom Chris vorentoe en agtertoe wieg op die stoel en dan sy hand  so lank laat afsak om die krokodil te streel.  Dan kyk ek so vir hom en ek wonder hoekom n boetie en n sussie saam bly in n huis met n gedroogde krodkodil.  




Comments

Popular Posts