BEBSAN EN DIE LEEUS
My pa het altyd hierdie storie met groot smaaklikheid vertel. Ek onthou een spesifieke aand toe ons buite in die Lapa gesit het op Park, onder die groot sterrehemel. Die rooihout stompe het vuurwarm gebrand en die goue vonkies het fiks en flytig, krakerug in die lug opgekletter. Lapatyd was storietyd en toe Gagare, Jim en Kleinbooi ook by die vuur aansluit ... toe is alles in plek vir n grote.
My pa het altyd sy hande so effens teen mekaar gevryf, sy khakiehoed opgelig en weer so skuins, skuins neergesit en dan n knippie snuif gevat, dit lekker stadig in elke neusgat opgetrek en dan weer reg geskuif.
Intussen, het ons almal met groot angs en verwagting gesit en wag vir die lekkerte wat sou kom.
Ai tog en dan begin my pa in Sepedi, vir Gagare en Jim en Kleinbooi se onthalwe, maar gelukkig rol die lekker Afrikaans sommer gou in een asem uit - op korte mette.
"Ja, dit was nou so" se my pa. "Ons is Mosambiek toe om te gaan kamp en jag. Ouma en oupa, ma en Helene en Elma het in n kamp tent op Lourenco Marques agtergebly - saam met Botshu. Ek en Bebsan is toe die binneland in om te gaan jag en om biltong te maak. Ek het n permit gehad om n paar koedoes en Springbokke te skiet vir biltong, maar ek wou ook n kwagga skiet vir n vel en ek het ook n permit gehad om n buffelbul te skiet. Nouja, ons is toe daar weg en diep die binneland in naby die grens van die Kruger Wildtuin het ons toe n mooi kampplek opgeslaan.
Die kamp was naby n rivier met sterk lopende water en baie vuurmaakhout. Ons was omtrent n stuk of ses mans so bymekaar. Bebsan was my geweerdraer, ons het n houtkapper saamgevat, iemand wat die waterkanne in die kamp kon volhou, iemand wat kon pap maak en iemand wat die kamp skoongehou het, die skottelgoed gewas het en die beddegoed uitgehang het, in die more.
Laat een middag, so teen drie uur, besluit Bebsan en ek om n draai te gaan loop. Ons het lus gehad vir Springbok lewer oor die kole daai aand. Nouja, nie ver uit die kamp uit nie, kom ons so onder n ry Mopani bome uit en toe ons so uitkom, sien ons n trop van veertig, vyftig Kwaggas en wildebeeste wei onder die bome. Ek sit die Mauser teen my skouer en toe die skoot klap le die kwagga. Dis n groot vet hings met n pragtige vel en ons besluit om hom net eers toe te pak met takke en dan nog so bietjie verder te loop vir n springbokkie of iets. Mens eet mos nie n kwagga nie. Kwaggas is mos nes n donkie en wie eet nou n donkie? Nee, dis net sy vel wat ek wil he. Die vel sal mooi lyk in die sitkamer op Park, dink ek toe.
So loop ons toe. Dis n lekker koel agtermiddag. Die son is reg agter ons en dit is windstil. Ons loop en ons loop. Toe ons omtrent so uur en n half die bosse in is, vat Bebsan so saggies aan my linker arm en hy hurk. Toe sien ek hom. N Massiewe Koedoebul onder n groot Maroelaboom. Toe die Mauser se koppie klap - toe le hy. Toe ons hom klaar toegepak het se ek vir Bebsan:" Bly jy nou hier by die vleis dan gaan ek terug kamp toe om die lorrie te gaan haal". Dis nou omtrent vyf uur en die son wil-wil sy koppie so onder die randte laat sak.
Man en toe ek omtrent so halfuur geloop het in die rigting van die kamp sien ek ewe skierlik n uitgeholde miershoop en opeens besef ek maar ek is so ruk gelede by hierdie einste muurshoop verby. Net daar en dan weet ek ... ek is in my moer in verdwaal.
Nou as jy in die Mopani bosveld verdwaal is daar net een ding om te doen. Jy klim in n boom in en bekyk die wereld van daar bo af. Daar is net een probleem. Dit is nou donker, pik nag donker! Ek besluit toe maar om n paar skote in die lug in op te skiet.
Elke paar tree stop ek en dan begin ek roep of ek skiet n paar skote. Toe ek stukkend gekrap, morsdood van moegheid en rasend van honger so teen agt uur daardie aand uiteindelik die kamp raak loop - storm al wat leef en beef op my af. Hulle het vas geglo Bebsan en ek is dood ... mors dood ... gone!
Nouja, toe moet ons die Gontsier start om vir Bebsan te gaan oplaai. Met n groot gesukkel kom ons toe so teen tien uur daardie nag op die plek af waar die groot koedoe geval het. Daar gewaar ons toe vir Bebsan. Hy sit, sit so skuins-skuins doer bo in die Mopani boom en onder die boom mael n trop van so sewe of agt groot leeus rond. Met n geraas en n paar skote die nag in, kon ons toe uiteindelik die leeus verwilder en kon ons onder die boom in trek - reg langs die karkas. Toe is dit n reuse taak om die koedoe boude en blaaie te sny en toe weer n gesukkel om die groot klomp vleis te laai en op die bak met n paar seile toe te maak.
Bebsan klim toe so stadig ... lit vir lit uit die boom uit. Toe hy grondvat gryp hy my om my nek en soen my. Deur sy trane se hy al snikkende: " Au baas ... vandag het ek gedink dis my laasste dag". Ek het gedink baas ... vandag is my dood dag!"
"au baas namhlanje bengicabanga bona ngizokufa!"
Gagare se groot ou boepens ruk op en af soos hy lag! Ons almal skree soos ons lag ... maar Bebsan, Bebsan het daardie nag nie gelag nie! Nie eers gesmile nie en hy wou nooit, ooit weer saam.my pa gaan jag nie!
Comments
Post a Comment
COMMENTS