THOMAS DIE SKAAPWAGTER

 

Voorstelling foto

Voorstelling foto

Thomas was my pa se skaapwagter.  Hy en Martha, sy vrou, het op Witpoort gewoon.  Hulle was Sepedis.  Smanak my maatjie was hulle dogter.  Hulle het nie ver van die plaashuis af gebly nie.  Hulle het net so onder die koppie gebly as mens die laaste opdraentetjie vat na die plaashuis toe, daar aan die linker kant. Hulle stat was baie eenvoudig.  Daar was niks oorvloedig, of impossant of spoggerig aan hulle stat nie.  Dit was net n blyplek.

My pa het met die skape getrek in die winter.  Dan het hy die skape vir maande laat wei bo op die berg.  Hy het altyd weiveld gehuur vir winter weiding by Oom Chris en tant Johanna O'Grady, op Tonteldoos. Thomas het dan by die skape gebly vir maande.  Hy het in n kliphuis gebly daar bo op die berg en eenmaal n maand het my pa vir hom n sak mieliemeel gevat en gaan hoor hoe dit gaan met die skape.  

Ek het altyd gedink ... dit is die eensaamste, eensaamste lewe wat n lewende mens kan lei, so daar tussen die tweeduisend skape op die koue Tonteldoos grasvlakte.  Thomas ... hy was in sy element! Daar bo tussen die skape en die wolke, die mis en die reen.  

Miskien was hy daar vry! Miskien kon hy daar bo asem haal, Miskien kon hy daar bo in die wolke net homself wees ... net menswees! Wie weet? 

Comments

Popular Posts