MY PA
![]() |
| My pa Arnold Tielman Petrus Du Toit My pa Arnold Tielman Petrus du Toit is gebore op 17 November 1921 |
Daar was altyd so n klein boekie met n geskeurde voorblaadjie en binne in het my ouma al die geldjies opgeskryf vir goedjies wat sy vir my pa gekoop het toe hy n baba en later n kleuter was. Goedjies soos n halwe meter bruin fluweel vir n kort broekie, n paar skoentjies, een meter vir twee wit kerk hempies - byvoorbeeld.
Daar was n laerskool oorkant die rivier onder die bloekombome aan die linkerkant. Hier het my pa begin skool gaan. Hy het n donkie gehad. Die donkie se naam was "Vaaltyn". Die donkie het by die skool omgedraai, self huis toe geloop en teen een uur as die skool moet uitkom self weer skool toe geloop - my pa op sy rug gelaai en dan terug gedraai huis toe.
By die Hoer Tegniese skool op Middelburg het my pa standerd agt klaar gemaak. Hy het toe by Glen Landbou Kollege op Bloemfontein n landbou kwalifikasie verwerf. My pa het altyd baie stories vertel van die ontgroening op Glen. Dit was baie, baie erg. Die senior seuns het die nuwe groentjies byvoorbeeld, in die nag wakker gemaak, goingsakke oor hulle koppe getrek en dan in die nag op n vreemde plek afgelaai. Hulle het die groentjies dan papnat gegooi met yskoue water, hulle geblindoek en dan moes hierdie arme seuns by die koshuis kom voor die son opkom die volgende more. My pa het altyd vertel hoe van die suens snot en trane gehuil het. Bloemfontein is die koudste stad in Suid Afrika ... en dit is vrek koud in die winter. Hierdie ontgroening was n soort van man word ritueel op Glen.
Na sy opleiding het my pa terug gegaan plaas toe. "Witpoort" toe. Hier het hy my oupa oortuig om skape te koop en om nie die koring te verkoop nie, maar om die skape in te jaag in die koringlande in en die skape dan te laat lam, die vet lammers te verkoop en die wol van die skape te verkoop. Dan kry mens drie keer die geld van een koring oes het my pa gese. Van toe af het hulle begin vooruit gaan.
My pa en ma is op 1 Maart 1948 op Brits getroud. Oupa het my ma die eerste keer gesien toe sy die kombuis vloer op haar knie skrop. My ma en haar gesin het toe in die huis oorkant die rivier gebly. Sy het opgekyk en vir my oupa gevra of hy n glas water wil he. Daar en dan het my oupa sy hoed afgehaal en vir die Here dankie gese want hy het gese: "Vandag het die Here vir my n vrou gegee vir my seun Arnold".
My pa is op 12 Augustus 1994 in die Middelburg Hospitaal oorlede en is op "Witpoort" in die familie begraafplaas begrawe.

Comments
Post a Comment
COMMENTS