SODOM EN GEMORRA

 




Dis Vrydag.  Die Vrydag voor die skole weer begin.  Dis nege-uur in die more en die telefoon lui.  Daar is n oproep vir my.  Ek moet die Dinsdag by die J.G Strydom Hoerskool begin in die suide van Johannesburg en die Onderwys Departement het n woonstel vir my in Dudley Heights in Smith Straat, Johannesburg.  Woonstel nommer 304.  dit is op die hoek van smith en Hospitaal straat in die middel van Johannesburg.

"Gou" skreeu my ma.  "Laat roep ou Sarah.  Sy moet Elma se goed kom was en stryk". "Ag Vader" sug my oupa hoekom moet die arme kind nou na die Sodom en Gomorra toe gaan". Alles is in rep en roer en ek sien al die vuil, donker woonstelletjie voor my geestesoog.  My ma gryp net ou lappe en Vim om alles te skrop en skoon te maak. 

Die hele Vrydag en Saterdag more was en stryk almal om alles reg te kry want Elmatjie gaan skool hou in Johannesburg.  Laat die Saterdag middag ry ons Pretoria toe en slaap daardie nag by Helene in Sinnoville.  

Vroeg die Sondagmore is ons op pad om te gaan kyk waar Elmatjie gaan bly.  My pa parkeer langs die Lady Dudley Hospitaal en dis n hengse ent om te loop om die hospitaal om uiteindelik by die woonstelblok te uit te kom. My ma en ek en my sussies wag geduldig in die kar.

My pa kom uiteindelik terug en sit vir n lang ruk dood stil agter die stuurwiel. "Dis n mooi plek" se my pa ... "n baie mooi plek".

My ma en ek vat nogtans die Vim en die lappe saam om skoon te maak,  ... toe ons voete grondvat in die marmer voorportaal weet ons dat ons die Vim verniet saamgebring het. 

Die voorportaal is hemelshoog en die mure is van wit marmer met goud omboorsels en spieels. Die hysbak is heeltemal goud en spiels van hoek tot kant. Woonstel 304 is my huis vir die jaar. Die woonstel is ten volle gemeubileerd van kop tot tone.  Beddens, linne, koppies, pierings, handoeke en tot - glo dit as jy wil - n ingeboude radiostelsel.  

Dit het lank gevat voor my ma se hart weer normaal geklop het.  Die Vim en die lappe het stil-stil n plek in haar handsak gekry en is nooit gebruik nie want daar was geen vuil plekkie in hierdie nuwe huisie vir Elmatjie nie!   


Daar bly ek toe agter om te begin skool hou - skool hou in "Sodom en Gemorra"! 

Comments

Popular Posts