MY EERSTE SKOOLDAG

 

LAERSDRIFT LAERSKOOL 


Dit is die skoolwapen maar die woorde het intussen verander


Die ou skool op Laersdrift staan so aan die regterkant langs die pad. Imposant, indrukwekkend - het ek altyd gedink - met die groot boog ingang in die middel.

Dit was skaars lig toe ons moes opstaan.  My ma het self die skool rok gemaak. My skoolrok het n goue E op die sakkie bo teen die linker bors gehad.  Ons is op Frank se rug pad toe, met n kombers toegemaak, want die skoolbus het ons by die grootpad opgetel. Frank was n perd. Ons perd wat ons elke oggend pad toe gevat het. 

Ek was in Mevrou Van Dyk se klas.  Mevrou Van Dyk was oud.  Baie oud.  Sy het dieselfde groen skool uniform as ons gedra net langer, met swart lang kouse en swart verpleegster skoene.  

Ons moes elkeen n waslappie en n koekie seep saam bring op die eerste dag.  Die waslappie het aan n hakkie aan die buitekant van ons skoolbank gehang.  As  ons wou toilet toe gaan moes ons hand opsteek en vra of ons die kamer mag verlaat.  As mevrou Van Dyk haar kop geknik het - het ons tot ver onder by die watervoor geloop waar sulke rye sink toilette wag gestaan het.  Vir my kinderhart was dit n verskriklike wroeging om toilet toe te gaan.  Die rye toilette het ten hemele gestink - partykeer het ek daar gestaan by myself gewonder of daar dalk een of ander ding dood le agter een van die toe deurtjies! 

Soms het ek maar net daar gestaan en geknyp, my hande ewe plegtig in die voortjie gewas, want Mevrou Van Dyk kon ruik as jou hande nie skoon gewas was nie.  Dan het ek maar ewe plegtig terug klas toe gegaan - sonder om te pie.  Die stink was te stink vir my!

Daardie einste voortjie het my geleer Engels praat. As ek my oe toemaak kan ek dit sien.  Mevrou Van Dyk met haar groot, groen rok, die dik swart kouse en die swaar swart skoene:  "I jump ... I jump over the stream"! se sy.  Al die graad eentjies moes dan soos een man spring van hierdie kant van die voortjie tot anderkant die voortjie en terselfdertyd uit volle bors skreeu: " I jump ... I jump over the stream!".

In my boereoorlog huis het ek nooit ooit Engels gehoor of gepraat nie.  In ons huis was Engels verbode want my oumas en tannies en kleinniggies en agter klein niggies was op Balmoral in die konsentrasie kamp en die Engelse het gemaalde glas in die suiker gegooi om die boere vrouens en kinders ... te ... 

Ek het by die stroompie by die Laersdriftse Laerskool geleer om Engels te praat.  Wat sal my groot oupa en my oupa van my dink as hulle my nou kan sien, my nou kan hoor in my vreemde aangenome land? 

Comments

Popular Posts