SKAPE TEL

 

My pa het met Dohne Merino skape geboer.


My pa was n skaap boer.  Hy het met Dohne Merino skape geboer daar in die hoeveld agter die Steenkampsberge.  My pa was n uitstaande boer.  Hy het elke skaap geken en hy het geweet om nie na die omgewing en na ander boere te kyk nie.  Hy het sy eie planne gemaak en geweet wat werk.  

My pa het sommer gou gesien dat die gewone Merino skaap n bietjie hulp nodig het en het toe groot Dohne Merino ramme ingebring.  Die Dohne Merino was n groter vleisskaap met fyner wol.  Baie gou het my pa se vet een jaar oud lammers op die Belfaste vendusie die eerste keuse van die kopers geword.  As mens so tussen die krale rondgeloop het, voor die vendusie kon n mens die groot verskil sien.  My pa se skape was breed plat. My pa het jaar vir jaar die trofee gewen vir vetlam van die jaar.  My pa kon boer.  

Al die lande onder die huis op "Witpoort" was onder koring toe my pa van Glen Landboukollege af terug kom op die plaas.  My pa het vir my oupa gese hulle moet die koring omploeg en klawer plant.  My oupa kon nie en wou nie maar op die ou end het my pa gewen en al die lande onder die huis het toe klawer lande geword.  Hier het die ooie wat lam jaar vir jaar die vetste en mooiste lammertjies grootgemaak.  Op n dag het n klompie boere kom kyk en met so n deur loop in die klawerland se een boer:  "Jinne ou Nollie as Nebukadneser hier gewy het, het hy vyf gallon melk op n dag gegee".  Nebukadneser is die koning in die bybel wat in n bees verander het omdat hy God geminag het.   

Daar was een ding wat my pa geweet het om goed te doen en dit was om vir die Here te gee wat die Here toekom.  Elke jaar as die lammers so paar weke oud was, was dit tyd om hulle kraal toe te bring saam met die ooie. Die ooie is gedose en die lammertjies se sterte is bewerk. Dit was n reuse werk en as alles uiteindelik gedoen was, wat gedoen moes word dan het my oupa by die kraal se hek gesit met sy kierie en my pa het aan die ander kant van die hek gestaan en dan het die groot getellery begin.  Soos die skape verby kom het hulle getel en gese: " Een vir Nollie, een vir Arnold en een vir die kerk".  Die kerk se lammers is eerste verkoop en ek kan eerlik se dat ek nooit ooit my pa met n lee beursie gesien het nie.  Dit was soos n speletjie tussen die Here en my pa.  Hoe meer my pa vir die Here gegee het hoe meer het die Here vir my pa gegee.  As ek my oe toemaak dan sien ek my pa langs die wit kool stoof staan in die kombuis met sy beursie in sy hand en ek hoor hom se: "Hannie kyk net goe goed is die Here ... ek het vanmore ... vir dominee ... gegee van ons tiende en kyk nou net hier gee die Here vir my tien keer soveel terug!




Comments

Popular Posts