TANT MIEMIE MY OUPA SE SUSSIE
| Hierdie is n voorstelling foto |
Tant Miemie was my oupa Nollie se sussie. My oupa Nollie het heelwat boeties en sussies gehad. Daar was oom Hennie en tant Ellie. Oom Hennie was my oupa se ouer broer en hulle het op Alldays op die plaas "Viviers" met rooi Afrikaner beeste geboer. Dan was daar tant Sienie wat in Pietersburg gebly het, tant Cielie wat op die Wonderfontein pad anderkant Stoffberg gebly het en daar was nog n paar ander wat op die plaas "Buffelsfontein" naby Grobelaarsdal geboer het.
Tant Miemie was my oupa se ouer sussie en sy en oom Chris Davel het op die plaas "Draaikraal" daar in die hoek van die Kliprivier met skape geboer. Hulle het ook n stuk grond gehad aan die oorkant van die pad as mens so uit kom by die plaaspad, op "Witpoort". Hierdie stuk grond was tant Miemie se erfgrond. Daar was nie n huis op die stuk grond nie en as oom Chris met die skape kom werk het op hierdie plaas, dan het hulle altyd vroeg in die more by ons aangekom en tant Miemie het dan die hele dag by my ouma en oupa gekuier, terwyl om Chris met die skape gaan werk het.
Tant Miemie was verskriklik maer. Net vel en been. Sy was tingerig soos n klein tinktinkie. Sy het altyd ingekom in die more en reguit na die middelste kamer toe geloop. Dit was my oupa en ouma se slaapkamer. Dan het sy haar hoedjie afgehaal, haar handsakkie onder my ouma se kopkussing ingestoot en haar handskoentjies onder haar hoed op die kopkussing neergesit. As sy omdraai het sy begin gesels. Sy het alles van alles af geweet en sy het nooit opgehou nie. My ouma het altyd gese haar ore het getuit in die middag as hulle so verdwyn oor die randjie. My ouma en my ma was bobaas baksters en hulle kon kook, maar sy het altyd resepte uitgedeel en raad gegee oor alles. Hoe om n poedinkie op Sondag te maak, as jy gou mense kry, hoe om n goeie gasvrou te wees, hoe om beter te bid ... ag alles oor alles! My ma en ouma het net gelag en as sy so weg trek oor die rand gaan sit hulle twee op die stoep, en dan se my ouma : "Hannie maak vir ons n lekker koppie koffie".
Comments
Post a Comment
COMMENTS