LALLIE EN EK BY DIE JARRABAD

 

Hierdie is n voorsstelling foto


Ek was so vyf jaar oud toe my pa my een aand optel en agter in die bruin Chev lorrietjie intel.  Ek het al die pad geslaap van die plaas af en die volgende more toe ek wakker word was ons in n kamertjie op n ander plek.  Dit was net ek en my pa en Lallie.  My ma was "missing". Niemand het my ooit vertel waar my ma was nie, ook nie wanneer ek haar weer sal sien nie.  Dit was net my pa en Lallie en ek. Lalli was my kinder oppasser.

Ons is by die Jarrabad - het my pa gese en partykeer sit ons saam in die klein warmbadjie.  Ek met my groen kostuumpie aan en my pa met sy kaal bo lyf.  Ek het min my pa se kaal bolyf gesien en dit was half snaaks vir my.  My pa was die hele dag weg en dan was dit net ek en Lallie. 

Op n dag loop ek en Lallie na die tannie bo in die kamp se huis toe - om te gaan melk koop en eiers.  Naby die huis sien Lallie n skroppie en a gras besempie.  Sy tel dit vinnig op en steek dit agter n klein boompie weg. "Dis ons besempie nou nonnatjie" se sy ewe plegtig. Melk gekoop en eiers in n kannetjie gepak nou stap ons terug na ons kamertjie toe.  By die boompie kyk Lallie links en sy kyk regs en sy tel die grasbesempie en die skroppie vinnig op en steek dit onder haar rok in.  Meteens skreeu die tannie van haar voordeur af: "Los my besem jou stouterd"  Net daar en dan trek Lallie daar los en sy gryp my aan my vet armpie en ek skuur so skuins skuins oor die grond soos sy my swing om by te bly.  Ons huisie is ver en die tannie is agter ons en ons hol. Genadiglik maak ons die huis voor die tannie en Lallie smyt my met geweld binne in die donker kamertjie in en stamp die deur toe. My pa weet van niks en niemand nie, want my pa is weg!
   
Later, baie later vind ek uit waar my pa was.  My pa was by my ma in die Philadelphia hospitaal, want ek het n nuwe sussie gekry en sy le klein en verrimpeld in n kotjie aan die onderpunt van my ma se bed. Ek draai die kotjie om en om totdat my ma se kop glad spin.  Van my noue ontkomings by die Jarrabad weet my pa en my ma heeltemal glad niks nie, want al die aandag is nou op die nuwe bondeltjie aan die onderpunt van my ma se bed!

Comments

Popular Posts