BEBSAN, BOTSHU EN MOUNA

 






Hulle gesin was n dubbel doses gesin.  Daar was Botshu en Bebsan en dan was daar Mouna en haar kinders en Bebsan.  So n dubbeldoor ... twee vir die prys van een gesin.  Hlle het daar bo teen die randjie gebly. Daar op Witpoort naby Pikenien en Sarah se stat. Hulle was Ndebele mense. 

Bebsan het vir my pa water gelei. Dit was sy werk om die klawerlande in die somer nat te lei. Onder die huis op Witpoort het die lande wyd en plat gele tot onder by die rivier. Dit was soos n reuse plat bed en in die somer het die blink water poele op die lande geglinster en in die sonlig silver strale lig gemaak. Bebsan was elke somer daar. In die winter was hy n petroljoggie erens in Benoni of Springs. Ses maande op die plaas en ses maande doer ver weg.

Botshu was slim. Sy kon Bybel lees en het haar eie Ndebele Bybel gehad.  Sy het nooit kinders gehad nie. Mouna se kinders was haar kinders ook. As my ma gou iemand nodig gehad het om n belangrike werk te doen in die huis het sy altyd gese: "Gaan roep gou vir Botshu". Botshu kon alles doen, maar sy was die beste met stryk.  Elke Saterdag het sy my oupa en my pa se kerkpakke  skoon gemaak en "gepress". Sy het ook ons koshuis klere gewas en gestryk, as ons die naweek by die huis was. Botshu het nooit n lelike woord gese van Mouna nie. Mens sou dink sy sou jaloers wees op Mouna ... maar nee nooit ooit iets nie. Net statig, net waardig ... al die tyd.

Mouna was net Mouna. Sy kon nie Afrikaans praat nie. Sy het altyd in die skaduwee van Botshu gelewe, maar sy het vier slim dogters gehad en dit het haar groot aansien gegee. Roos en Lallie en nog twee. Lallie was slim verby. Sy kon Afrikaans praat. Sy het ons groot gemaak. Op haar rug het ek aan die slaap geraak. Op haar rug het ek my hande deur die lang tamboekiegras oop gehou en gevleg en gesny. Op haar rug het ek geleer om "Somlandelu Jesu" te sing in Ndebele ... net soos sy. Op Lallie se skoot het ek geleer om pap en dikmelk met my hand te eet en te se: "  Ngi a lebugele". Lallie het my naam verander. Vir haar was ek " Mafuta" die vet enetjie. Jare later sien ek hulle almal by my ma se begrafnis onder die dik Ndebele komberse en al wat ek hoor is: "Mafuta Mafuta ... jy het gekom ... Mafuta ... het gekom. Van n ver land het Mafuta terug gekom plaas toe ♥️ terug na Botshu, Bebsan Mouna en haar vier dogters en terug gekom na Lallie toe!



Comments

Popular Posts