OOM HENNIE EN BLINDE TANT ELLIE
My oupa se boetie, Oom Hennie, het n plaas gekoop in die Alldays distrik, doer bo in die Noord Transvaal. Die plaas se naam was "Viviers". As mens in daardie wereld wil boer moet n mens hou van warm ... vrek warm en droog. Jy moet ook tough wees ... baie baie tough want die droogtes kom gereeld en vreet die veld op todat daar nie n grassprietjie in sig oorbly nie. My oupa se boetie oom Henie het hierdie wereld lief gekry en "Viviers" was sy groot - groot liefde.
"Viviers" was so tien of fytien myl van die dorpie Alldays af. Oom Hennie en tant Ellie het daar gebly in stille berusting. Water was kosbaar en skaars. Daar was n groot kleipot in die hoek van die eetkamer met n blik bord bo op en n koppie. Met hierdie koppie kon mens water skep en een of twee keer n dag water drink. As jy te veel by die klei pot gekom het het tant Ellie jou gou vertel hoe skaars water is. Tant Ellie was heeltemal blind en sy het so voel-voel deur die huis geloop, maar sy het geweet van elke keer as jy water gedrink het.
Soggens het sy haarself by die slinger telefoon in die eetkamer, staan gemaak, die slinger twee of drie keer gedraai en dan se sy: " More Nellie". Nellie was haar dogter en Nellie was getroud met groot oom Frans Venter en hulle het op n plaas daar naby gebly.
Brekfis was a groot gedoente. Die groot tafel in die eetkamer is gedek en dan moes almal wag vir die groot grootmense om eerste aan te sit. Dan is die fyn gestampte wildsbiltong so plegtig in die ronde gestuur. Brekfis was wit mieliepap en fyn droe gestampte Springbok of Koedoe biltong. Daar is nie n woord in die Afrikaanse taal om hierdie heerlikheid te beskryf nie. Lekkerder as lekker!
Daar was nie veel speelplek vir drie klein dogtertjies in en om die huis op "Viviers" nie. Dae hier het maar so tussen brekfis en aandete onverstoord omgerol. So n entjie van die huis af was daar n watertrog waar die vee water gedrink het. Vir ure het ons die ronde koper bal aan die einde van die watertrog op en af gewikkel en verbaas gestaan oor die wonderwerking van n windpomp. Kaplaks, plaks, plaks en nog n kaplaks het die windpomp om en om gedraai in die dorre stilte van hierdie droe wereld. As die wind gaan le en die windpomp draai nie dan raak almal so bietjie verbouereerd, want water in hierdie wereld is skaars.
Saens as ons moet bad en my ma ons vuil voetjies moet skoon kry meet blinde tant Ellie die badwater af met vier krom vingers. Daar mag net vier vingers water wees in die bad, ... water is skaars hier op "Viviers" ... baie, baie skaars! "Dis baie beter om met vuil voete te gaan slaap as om die water te mors". Kindertjies drink te veel water en plas in die watertrog wat die vee moet drink en ag nee wat - dit is rof!
Comments
Post a Comment
COMMENTS