MY MA
![]() |
| My ma Johanna Helena Ras |
My ma was beeldskoon!. Haar vel was soos wit marmer. Sy het diep donker bruin oe gehad. Oe wat jou toegevou het as sy na jou kyk. My ma was skaam. Sy het nooit geweet hoe mooi sy is nie. Ek het my ma in my hele lewe nooit, ooit hoor skinder nie. Ek het haar nooit, ooit hoor sleg praat van n ander mens nie ... nie eers een woord nie! My ma was die edelste, die mooiste, die reinste, die hardwerkendste, die spaarsamigste mens op aarde! My ma is op Brits gebore. Haar ouers was tabak boere en hulle het op die plaas "Rooikoppies" so n ent uit Brits uit geboer. Haar pa Johannes Willem Adriaan Ras was n weduwee toe hy met my ouma getroud is. Hy het twee groot kinders van sy eie gehad en daarna het hy en my ouma nog agt kinders gehad. Tant Anna, tant Lina, Oom Tienie, Oom Lou, my ma, tant Jean, tant Lettie en heel laasste Johan - Boet die laat lammetjie. My ma het altyd vertel hoe arm hulle was. Sy het altyd vertel, sy wou so graag skool gaan, gaan leer, maar daar was nie geld nie. Sy moes baie vroeg leer om te help op die lande om tabak te plant of te oes. Sy het vertel hoe seer haar hande geword het om die wasgoed te was na skool. Sy het vertel hoe die groot bondel wasgoed op n Maandag na skool daar vir haar gestaan en wag het en hoe haar hande rou was van wasgoed was, na so n Maandag wasdag sessie. Op Dinsdae moes sy stryk. Berge hoog vol hemde van die boeties, rokke, voorskote, lakens en kussingslope. Asof dit nie genoeg was nie het my ma vertel van die brood knie en die hele klein sinkbadjie vol meel. Twaalf koppies broodmeel op n slag en hoe moeg haar arms geword het om die groot klomp deeg te knie. My ma het vertel hoe so n baksel brood net twee dae gehou het want so n groot familie eet n brood op in een slag. My ma het vertel hoe sy en haar vriendin die skool geniet het. Hoe my ouma baie keer gese het sy hoor haar en Drina se bekke van die huis af, so lag en gesels hulle twee. My ma wou so bitter graag wit skool kouse he. Daar was nie geld vir dit nie, het my ouma gese. My ma brei toe sommer self n paar kousies. So n paar wit gebreide kousies tot by haar enkels met n geskulpte randjie om die enkel. My ma wou so graag gaan leer. Om na matriek na die Huishoudskool by die Hartbeespoort dam te kon gaan, was haar hartsbegeerte. Dit was haar nooit gegun nie want toe haar pa skierlik sterf aan n hartaanval en my ouma oornag n weduwee word met agt kinders, moes sy op standerd agt die skool verlaat om huis te hou. Tenspyte van geen professionele naskoolse onderrig nie was my ma n bobaas kok. Haar skilferkorstertdeeg het sulke lae op lae op lae oopgeblaai soos n boek. Haar smeerperskes en droe perskes was verkoop voordat die seisoen begin het. Mense het jaar op jaar vooruit bestellings geplaas want dit was uitsaande kwaliteit. Sy kon konfyt kook, sy kon klere maak, sy kon beskuit bak, sy kon konfyt tertjies bak ... en Sondag ... Sondag sit sy in die kerk en sy lyk soos Greta Garbo! My ma ... my ma was n heunigblom soet, marmer vel - uithaler mens! |

Comments
Post a Comment
COMMENTS