MY OUMA SE TUIN OP WITPOORT






 My ouma Bettie het altyd vier of vyf paar skoene voor die agterdeur gehad.  Dit was altyd toe gekoek van die tuin modder.  Sy het altyd gate in haar splinternuwe "nurse" skoene gesny waar die bunions groot knoppe gemaak het op elke voet. Die gate was vir die bunions om uit te steek sodat dit haar nie kon seer maak nie.  My ouma se skoene was die stille getuienis van haar vernuf met tuin maak.  Die hele  groot stuk aarde voor die voordeur was tuin liefde vir tuin maak.  My ouma het tuingemaak in terasse.  Die hele groot stuk aarde voor die voordeur was tuin - tuin in terasse!

Die eerste teras was die roostuin. Lang staan rose wat almal tegelykertyd blom en die lug op n warm sonskyndag vul met damask - het hierdie blok n ware paradys vir die sintuie gemaak.

Daar was ook klein terassies aan die ver linkerkant langs die bloekombos.  Hierdie klein terassies was ons kinder tuintjies. Elke kind het sy eie tuintjie gehad en hier het ons geleer om beddingkies te maak so groot soos n deur en om fyn wortelsaadjies te saai uit die hoek van jou hand, in te kap met n hark, fyn grond bo op te strooi en met lang droe gras toe te pak sodat die voels nie die saad op pik nie.  Ons het geleer om elke dag die beddingkie met n gieter nat te gooi in die laat agtermiddag en ons het geleer om op n dag die tenger, vingerling, groen, slap blaartjies te sien deurkruip om te begin lewe.  Ons het geleer om groenboontjies in lang rye te plant en ons het geleer van nat lei.  Ons het geleer dat mens partykeer die boontjies kan opgrawe om te kyk hoe ver hulle gegroei het en dat dit oraait is!

Op die tweede teras was daar Dahlias en Swaardlelies.  My ma het Swaardlelies mark toe gestuur met die trein.  Dit was vir n sakgeldjie.  Die Swaardlelies is in lang plat karton bokse verpak en dan het my pa dit stasie toe gevat.  Ek dink dit was nie baie winsgewend nie, want die blom kwekery het nie lank aangehou nie.

Daar was wortels en beet op die derde teras en heel onder lang rye met bone.  Lang rye met bone en lang stokke wat tepees gemaak het soos die bone daarteen opgerank het. In hierdie lang groen donker tonnels het vet beentjies en kaalvoet toontjies nuwe werelde ontdek.

My ouma kon tuinmaak!  Sy kon tuinmaak! My ouma kon waaragtig tuinmaak!  Sy het heel groot skoenbokse vol sade gehad.  Gespikkelde  bruin bone, groot plat wit bone, pampoensade, fyn wortelsade, en growwe beetsade wat soos Park se dorings gelyk het.

My ouma het alles geweet van tuinmaak, van waterlei, van beesmis inwerk voor jy plant tot torre vang en in lang stringetjies op ryg sodat hulle nie die bone se blommetjies kon opvreet nie.  My ouma kon tuinmaak ... sy kon!

Comments

Popular Posts