KOSHUIS TOE


Ek het gesien hoe gaan my oudste sussie koshuis toe.  Ek het geweet van die koshuis.  Alles daarvan geweet.  Ek het gesien hoe my ma ure en ure sit om my sussie se goed te merk en ek het gesweer ... ek sal anders wees. Ek sal my eie goed merk, ek sal my eie tas pak, ek sal sterk wees. Ek sal dapper wees.  Ek sal my pa en ma trots maak op my!

In standerd ses is ek in Marie van Wyk se dormitory. Daar is een jaar sewe een jaar agt leier ... Marie van Wyk en die res standerd sesse.  Elkeen het n staal hangkas in die gang n koshuis bed en n staalkassie langs die bed.  Ligte uit is nege uur saens en die opstaan klok lui ses uur in die more.  Die tweede badklok lui twintig oor ses en dan is inspeksie tyd kwart voor sewe en die etensklok lui sewe uur.

Aan my oudste sussie het ek nie veel nie.  sy is in n dubbel kamer in die hoof gebou.  As my pa en ma ons in die aande bel is dit so n geveg dat hulle later besluit om een aand die een te bel en dan weer die ander aand die ander kind.  Saam het dit net nie gewerk nie.  

Saterdag oggende kon ons dorp toe gaan.  Ek het dan altyd in Fitzgerald's rond geloop.  Die winkel het alles en alles en nogwat verkoop. Die grootste lekkerste van n Saterdag oggend was die pie en "gravy" by die kaffee vir vyf-en-twintig sent. n Pakkie slap "tjips" met tamatiesous het vyf sent gekos en was koningskos op n  koue Belfast more.  

Sondae het ons in lang rye kerk toe gestap met ons wit rokke en wit sokkies.  Sondagmiddae het ons ook in lang rye gestap, maar hierdie keer vir ontspanning!   Daar was twee plekke waarheen ons kon stap.  Ons kon na die dorp se dam toe stap of ons kon na die dorp se stasie toe stap.  "What a moerse choice!"

Comments

Popular Posts