PROEFTYD BY DIE HUISHOUDSKOOL - GEORGE

 

George 

Rosemary Harris was in dieselfde gang as ek op Heidehof.  Sy was in haar tweede jaar toe ek in my eerste jaar was.  Sy was Engels.  Tenspyte daarvan het sy haar oor my ontferm en altyd alles mooi duidelik vir my verduidelik.  Sy was die beste Huishoudkunde student in haar eerste, tweede en derde jaar.  Sy was uitstaande!

Een aand laat in my eerste jaar, drink ek koffie by Rosemary.  Sy vertel my van die proeftydperk in die tweede jaar.  So, hoor ek vir die eerste keer dat Juffrou Vlotman, die hoof van die Departement, gaan inkom teen die middel van die eerste kwartaal, in die tweede jaar, en vir ons gaan vra om ons hande op te steek vir die Huishoudskool waar ons wil gaan proef. Ek hoor vir die eerste keer van die Huishoudskool op George.  Rosemary en ek besluit net daar en dan - dit is waar ek gaan proef in my tweede jaar.  Toe Juffrou Vlotman daardie dag by die klas in stap met haar lysie ... was ek soos blits.  

Daardie Junie vakansie op die plaas is daar groot opgewondenheid, want Elmatjie gaan met die trein Kaap toe.  Die dag voor die tyd moet ek eers gou my ma se hare sny.  Teen laat middag sit my ma ewe rustig met n handdoek om haar skouers terwyl ek haarkapper speel.  Meteens gly die sker en toe ek dit wil gryp steek die sker n gat in my maag.  O! gaats wat nou!

My ma gryp gou n lap en druk dit op my vet magie om die bloed te stop.  My een sussie hol lat dit bars om my pa te roep en my ander sussie bel die dokter op Dullstroom.  Laat aand werk dokter Van Rooyen die gat toe en gee vir my n salfie om alles weer mooi te laat terug groei.  My pa, ma en sussies vat my die volgende more Pretoria toe en saam met twee ander studente durf ons toe die lang pad met die stoom trein aan, tot in George.  

Die eerste middag loop ek poskantoor toe en stuur n telegram vir my pa en ma:  "Goed gerys. Gat gesond".  Elke more maak twee dogters ons wakker met n wonderlike skinkbord vol van die daintieste wit toebroodjies, porselein teekoppies en n teepot met n mussie op, vol warm tee.  Die eerste more dink ek, ek het wakker geword in die hemel.

Juffrou van Wyk is die Visie Prinsipaal met n koel ronde lyfie, ronde bruin oe en n wonderlike vriendelike, gulle geaardhied.  Die hoof weet ons het ge-arrive maar sy is siek ... baie siek en ons sal haar nooit ontmoet nie.  Ons het tot naby haar huis geloop maar die hele tyd wat ons daar was het almal saggies agter hulle hande gepraat oor die hoof.  Die hoof wat baie siek was.

Een laat agtermidddag vat Juffrou van Wyk ons strand toe. "Wildernis" strand toe.  Die strand le wit en uitgebak voor ons en die golwe breek ysblou oor die spierwit sand.  Vanmiddag het Juffrou Van Wyk haar aanstaande man saam gebring see toe.  Toe ek later papnat en yskoud terug op ons piekniek kombers kom sit, le daar n arm met n hand ewe sedig op die kombers.  Ek wonder by myself waar op aarde die res van die mens is. Gelukkig kom maak Juffrou van Wyk haar sit hier neffens my.  Sonder om te blik of te bloos vat sy die arm met die hand, tel dit plegtig op en sit dit sonder enige seremonie in haar handsak.  Ewe sedig se sy:" Dis my aanstaande se prostesis".  Jammer vir die ongerief".



Die kastele op Knoetsie is privaat wonings 








Op n ander middag vat Juffrou Van Wyk ons drie Knysna toe en ons maak n draai by die drie kastele op Knoetsie.  My klein wereld rek en rek en rek.  Ek het nog nooit so iets in my lewe gesien nie.  Op "Witpoort" bly my ma en pa in n gewone plaashuis met n veranda en n stoep en ek het nooit kon dink dat gewone mense in sulke paleise en in sulke weelde kan bly nie.  Ek wonder wat my oupa en ouma van die weelde sal se!


My proeftyd by die Huishoudskool op George was een van die hoogtepunte in my ryk en vol lewe.  As ek dit vandag weer oor kan doen ... dan sal ek verseker weer!  Ek sal dadelik weer my hand opsteek as Juffrou Vlotman ... haar lysie maak!







Comments

Popular Posts