MY OUPA NOLLIE

 

"Die sieke dra die gesonde"





Oupa Nollie


My oupa het altyd mank geloop. Hy het sy heup gebreek toe hy van n perd afgeval het toe hy jonk was.  My oupa was n pragtige man.  Groot kop met spierwit hare.  Groot hande, lank en goed gebou tenspyte van sy een been wat hy altyd so half gesleep het. 

Elke middag het my oupa ons almal opgetel en dan het hy ons in die bloekombos agter die huis geleer om te bid. Hy het sy spierwit kop op die grond neergesit en gebid ... vir ons het hy geleer om te bid.  Baie jare later toe ek by Kwa Sizabantu gered is het ek hierdie Bybelversie gelees in n Bybel wat n tannie vir my geleen het:"  Look how I have guided you all these years in the desert until you came to this place.  It is because of the great love of your fathers and their fathers that I have saved you"

Dit is so waar.  My oupa het elke oggend vyf uur opgestaan, gewas, aangetrek, Bybel gelees en gebid.  Teen die tyd wat ons opgestaan het, het hy alreeds n lang tyd gelewe en het dan alweer gerus.  Hy het altyd op die bank gele op sy rug. Ek het my oupa nooit ooit n ander boek sien lees as die Bybel nie. 

My oupa was vreeslik, vreeslik lief vir goue stroop. Nie sommer enige goue stroop nie.  O! nee dit moes die groen blik wees wat hy net by die koelie op Dullstroom kon koop.  Lyall's Golden Syrup.





Lyall's Golden Syrup




My oupa was vreeslik lief vir koekies en n sekere soort Butterscotch.

Butterscotch - oupa se groot lekkerte

Elke stukkie butterschotch was in n silver papiertjie toegedraai.  Dit het my oupa oneindig plesier gegee om elke stafie lekkerte stadig oop te draai, te kyk, te proe-proe en dan die salige heerlikheid in sy kies te sit om stadig daar weg te smelt!

Die koekies het hy by Drent se bakkery op Belfast gekoop as hy ons op Vrydae by die koshuis kom haal.  Dan het hy in die wit-grys Peugeot Stasiewa voor die skool gesit en wag met sy een seer been so buite die oop deur op die grond. Ek kon altyd my oupa van ver af sien ... sy groot, oop, vriendelike gesig stralend van blydskap on ons weer te sien. Sodra ons ingeklim het was die bruin kardoes pakkie oop met die groot plat koekies van Drent se bakkery wat my oupa sooo lief voor was!

Die rit plaas toe was altyd vol opwinding. Oupa kon nie meer mooi sien nie en soms was dit maar "touch and go".  Ons het nie altyd geweet of ons dit gaan maak oor die smal bruggies nie, of oupa die skape doer voor in die pad sien nie, of oupa dit gaan maak om die kar voor ons verby te vat, voor ons kop aan kop gaan smash met die kar wat van voor af kom nie ... maar oupa het ons altyd veilig en in een stuk op die plaas aan gebring.  My oupa het ons elke tweede Vrydag by die koshuis op Belfast gaan haal en hy het altyd gese dis die beste deel van sy week!

Ouma Bettie was oupa Nollie se groot-groot liefde.  Elke aand het hy haar lang hare losgemaak en uitgeborsel. Dan het hy haar hare  gevleg en vasgemaak met n fluweel lint.  Na ouma Bettie se dood het oupa n stoel opgedra tot bo by die kerkhof en daar langs haar graf neergesit.  Met sy af heup en al het hy elke middag as die son so begin sak daar onder die Steenkampsberge, het oupa Nollie n groot bos wit varkore gepluk en so mank-mank opestap tot bo by die kerkhof.  Daar het hy lank by ouma Bettie gesit, gebid en gehuil.  Ouma Bettie was my oupa Nollie se groot-groot liefde!

Oupa Nollie was soos n stille vors in ons lewens.  Hy was nooit uitgesproke of kwaad nie.  Ek het my oupa in my hele lewe nooit ontsteld gesien nie, nooit kwaad gesien nie. Toe my ouma Bettie kanker gekry het, het hy by haar gesit en dag vir dag haar hand vas gehou.  Hy het haar hand vasgehou en vasgehou en vasgehou tot sy weg is, daardie een Sondagmiddag, laat.

Oupa Nollie die "gentle giant".  As ons kla gebid het in die middae het oupa ons opgetel en dan sing hy so liedjie "Die sieke dra die gesonde ... die sieke dra die gesonde". By die plat klip voor die sitkamer het hy ons afgetel, n handvol droe perskes uit sy sak uitgehaal en dit vir ons gestamp. 

Die son kon ek proe, die soetheid en die sap met elke stukkie gestampte stukkie geelperske goedheid.  


My oupa, my oupa Nollie ... hy was koning!   






Comments

Popular Posts