MY NIGGIES EN N NEFIE

 

Elke skool vakansie het hulle gekom -  so gereeld soos klokslag het hulle gekom!


Elke skoolvakansie het hulle gekom.  Oor en oor - weer en weer want hulle het nie n lewe gehad in die polisie woonstel op Middelburg waar my oom n polisieman was nie.  "Witpoort" was die uitkoms vir vier niggies en n nefie ... baie plek vir hulle en vir nog twintig ander! 

Nefie was so oud soos ek en hy was boesemvriende met my nuwe ouma se seun. Ek kan die twee nou so voor my sien.  Kaalvoete, kort khakie broekies, elkeen met n groot wyerand hoed op en die perd.  My nuwe ouma se seun het n perd gehad en een van hulle moes altyd langs die perd hardloop of hy moes op die donkie ry ... as daar n donkie was!

Een niggie was so oud soos ek.  Sy was lank en maer. Model maer.  Die tweede niggie was my sussie se maat en die jongste niggie was my jongste sussie se maat.

Ons het altyd by die rivier gespeel.  Een somer vakansie het ons op n dag tot laat in die rivier baljaar. Die son was al amper onder toe ons almal besluit om by my oupa en ouma te gaan kuier.  Dit was al half donker toe ons uiteindelik weer oor die muur in die rivier loop op pad huis toe.  Ons moes mekaar vas hou om nie in die koue rivierwater in te val nie, en toe ons ander kant deur die bosse breek, bars my pa onder die bosse uit met die sweep.  Ons trek daar los en hardloop asof ons in die honderd meter finaal is. My pa streep ons met die sweep so in die gehollery.  Ons lag en huil en harloop terselfdertyd en probeer  net om nie heel agter te wees waar my pa ons met die sweep kan bykom nie. Kort-kort skreeu Jeannie: " Harloop hier kom hy!" "Hol julle hol hier kom hy!" Ons moes mooi bontstaan daardie aand voor ons kon gaan bad en die rooi strepe van die sweep het dik op ons kaal bene gele.  My pa was knorrig kwaad maar later het ek gesien hoe lag hy toe hy vir my ma die storie vertel!

Bebsan, was die man wat die lusern lande nat gely het in die somer.  Die lang plat lande was altyd vol plasse water en ons het heerlik hier in die plasse water gespeel in die somer. Ons het ons swem kostumes aangetrek en dan in die water rondgehardloop, geplas, geskie en toe ons groter word getan!  Die swart bubblegum wat ons by die meule se winkeltjie gekoop het, het vasgesit in ons hare in die warm son en meer as een swemkostuum in die asblik laat beland!

My oom is later verplaas. Die Vrystaat is vrek ver en van plaas toe kom vir die somervakansie was daar geen sprake meer nie. Wat sou ek wou gee om weer op die bloekomboom stomp, agter die kraal, saam met al my niggies en n nefie, te kon boomstomp ry!

 

Comments

Popular Posts