| Dullstroom stasie 
 
 Veid se blou winkel in Dullstroom
 
 
 
 
 
 
 
 
 Die N.G. Gemeente Dullstroom.  Ek is in hierdie kerk aangeneem en voorgestel.
 
 
 Elke Sondagmiddag, so gereeld soos klokslag het ons gaan kuier.  In Dullstroom, by my anner ouma, my ma se ma.  My ouma en my oupa Blignaut het langs die O.T.K. gebly.  Daar was net n hoe denneheining tussen ouma se huis en die ko-operasie. n Draai hekkie waarop ons heerlik gery het, het toegang gegee tot die voorstoep van die Ko-operasie gebou en die bree plat versterrame van die uitstal vensters het ure se genot verskaf as ons nat neusies teen die vensters druk om beter te kan sien wat binne die winkel aangaan, of as ons op en af op die vensterrame stap om te kyk wie die langsste bo kan bly. 
 
 My ouma het n swartstoof in die kombuis gehad wat altyd rooiwarm gebrand het.  Dullstroom was koud ... ysig koud.  Almal het altyd om die stoof in die kombuis gesit en kuier.  Die huis was groot, die spens het so skuins oor die kombuis uitgeloop en daar het my ouma rye en rye ingemaakte vrugte gehad en op die vloer was n blik vir semels, n blik vir mieliemeel, n blik vir broodmeel, n blik vir koekmeel, n blik vir suiker en n blik vir boerebeskuit.  My ouma het altyd self brood gebak en ek onthou dit was altyd sulke groot wit snye brood. 
 Die slaapkamer van my ouma en oupa was langs die eetkamer.  Die eetkamer was in die middel van die huis, met n groot eetkamer tafel in die middel van die vertrek en die stoele daar rondom gerangskik.  In die middel van die tafel was n glas olielamp wat saens aangesteek is.  Hier het oupa altyd die Bybel gelees en dan het die hele familie gekniel en gebid. 
 My oupa en ouma se kamer was wonderlik mooi. Dit was donker en snoesig sag.  n Groot, hoe dubbelbed het in die middel van die kamer gestaan.  Daar was n sagte bulsak vol gans donsvere op die bed met spierwit lakens.  n Bulsak is n verebed.  Daar was n bedkassie aan elke kant met n skoon wit kers en blaker op elke kassie.  My ouma het in n lang wit flennie nagrok geslaap en my oupa in n lang wit onderbroek en langmou frokkie met n slaap mus op sy kop.   Dit was so snaaks vir my en ek het altyd my oupa bekyk, as hy nie kyk nie, en gedink dat my oupa dalk ... Noddie ... net dalk Noddie kan wees! 
 Die badkamer het uit die eetkamer uit geloop. Reg oorkant my oupa en ouma se slaapkamer.  My ouma het n wasmasjien gehad wat mens met die hand moes draai.  Elke stuk wasgoed moes mens met die hand deur sulke rollers draai om die water uit te kry. Die wasmasjien was vir my die lekkerste speelding en ek het ure omgespeel en soms my sussies se lang hare in die rollers vasgedraai!  
 Agter die eetkamer was daar n sitkamer, maar niemand het ooit daar gekom nie, want dit was net eenvoudig te koud.  Uit die sitkamer aan die linkerkant was my ma se jongste boetie se kamer.  Aan die ander kant nog n kamer waar ons altyd geslaap het as ons vir n paar dae by my ouma gaan kuier het.   
 My oupa en ouma het n lang erf gehad en daar ver onder was n kraal waar my oupa en Essau, wat by hulle gewerk het, die koeie gemelk het.  Dit was n groot pappery en modder van die agterdeur af tot doer onder en ek weet glad nie hoe my oupa die paar melk koeie aan die lewe gehou het in die groot modder bad nie.  Koffiemelk was n noodsaaklikheid en waar n wil is is n weg! 
 My ouma het appels gedroog vir n geldjie en gansdons gepluk en verkoop vir kussings en vere komberse. Agter die huis was die stasiegeboue.  Dis oor hierdie stasie dat ek glo in engele wat na kinders kyk.  Ons het elke Sondag op en afgestap op die trein spore en snags as ek warm en veilig in my bed le, het ek gedink aan die storie van die man wie se voet in die treinspoor vasgesit het, met n lokomotief wat volstoom nader brul!   
 O! aarde ek dink ons  beskerm engele was baie besig op Dullstroom stasie, op n Sondagmiddag!  
 Ek het jou nog nooit  - ooit ontmoet nie my dierbare beskerm engel, maar eendag in die hemel as ek jou vir die eerste keer regtig sien gaan ek vir jou baie, baie dankie se!  Dankie se vir gister en vir vandag! 
 
 
 
 
 
 | 
Comments
Post a Comment
COMMENTS