| DIE GONTSIER 
 
 
 EK IS DOOD SEKER DIT WAS N LEWENDE WESE ... ons Gontsier! 
 Die "Gontsier" was n groot, groen wese met n houtbak. n Groot groen bonnet met ronde vet wange en n binnekant so groot en so warm soos my ma se arms.  n Veilige kassie voor my ma se voete om lekker in op te krul en vinnig aan die slaap te raak. 
 
 "Gontsier" was my pa se groot, groen lorrie met n hout bak wat gereeld en getrou die lemoene van "Park" af aangery het Hoeveld toe, wat my aan die slaap gesus het, wat my n wegkruipplekkie gegee het as my pa vir my se: "Kyk na die maan, Elmatjie ... daar is die maan!".  "Ek wil nie die maan sien nie!" het ek gese en stywer ingekruip in die hoekie by my ma se voete. 
 Daar was altyd n swart en wit fototjie van my pa op Park op die bak van die "Gontsier" met omtrent twintig swart mans met grawe.  Hulle het almal gelag en op die fototjie sien mens net tande.  Almal was  happy.  Die "Gontsier" het mens happy gemaak. 
 My ma het altyd gese my sussie en ek kon so woelig of so moeilik wees as ons wil, maar as ons in die beastly beast in klim dop ons om en ons slaap. Ek het altyd in die donker hokkie onder by my ma se voete ingekruip en voor ons by die eerste hek was, was ek vas aan die slaap. 
 Die "Gontsier"  het bale wol Ko-operasie toe gevat op Dullstroom, winter hooi ingery, skape vendusie toe gevat op Stoffberg, Dullstoom en Belfast, soutlek aangery, mieliemeel, soutlek en dipstof aangery Park toe, maar meestal het die ou grote lemoene en nartjies van Park af uitgebring Witpoort toe.  
 
 Op Witpoort het mense van hynde en verre gekom om lemoene te ruil vir mielies. Goudgeel vragte vol heerlikheid is geruil vir mielies. Elke dag was daar rye donkies en donkie karre bo by die waenhuis. Almal wou lemoene he.  Een emmer lemoene vir een emmer mielies. 
 Ek dink sy naam was "Gontsier" want dit is die geluid wat hy gemaak het as hy die bulte uitbrul vir die nege myl van die groot pad af tot by die plaashuis.  Mens kon die dreuning myle ver hoor. Bult op bult af van Witpoort af tot onder die Frangipane boompie op Park.  
 
 Groot, groen "Gontsier" van ewige lekkerte en goue gerusstelling ... in jou diepte het ek aan die slaap geraak ... keer op keer op keer.  Jou egalige gesus was vir my klein onskuldige kinder hart n liefdeslied, n wiegelied n aand gebed! Dankie "Gontsier"! 
 
 
 | 
Comments
Post a Comment
COMMENTS