DAG SES-EN TWINTIG TOT DAG DERTIG: OUPA NOLLIE EN OUMA BETTIE SE EPIESE RYS NA KENYA

HIERDIE BLOG IS GESKRYF IN OUMA BETTIE SE EIE WOORDE.

Die Rift Valley - Die Skeur vallei

WOENSDAG: 1 OKTOBER 1958

DAG SES-EN-TWINTIG

Vannag, het ons toe hier by Poppie se huis geslaap - ons het baie lekker by haar gekuier- sy het ook n mooi plaas en is besig om vir haar n huis te laat bou.  Haar man is nou al agt jaar dood en nou sukkel sy so om haar huis klaar te kry. ... het haar huis gebou en vreeslik afgeskeep - en sy het al 1,000 pond betaal - gisteraand was Fredie Moolman en sy vrou hier om vir ons te kom kuier, hulle is nou 6 jaar hier en gaan oor 18 maande terug Unie toe.  O! maar waarlik dit is te vreeslik om te hoor hoe hulle hier sukkel met hulle kinders se skole.  Die Engelse behandel die Afrikaanse kinders so sleg.  Hulle moet vreeslik baie betaal om hulle kinders geleerd te kry.  Met die Mau Mau besigheid stoot hulle die Afrikaanse kinders altyd voor in die gevaar. As jy n Mau Mau doodskiet voor hy jou eers aangerand het kry jy tronkstraf. Vir my is daar net een Suid Afrika - nog nooit was die woord vir my so mooi nie.  Met die Mau Mau besigheid het die Mau Mau nooit die Afrikaners doodgemaak nie net die Engelse sodat die Engelse. Die Afrikaner kinders in die skole het hulle ook Mau Mau genoem omdat hulle gese het die Afrikaners stook die Mau Mau op.  

Ons voorouers was in Britse konsentrasiekampe in Balmoral in Suid Afrika.

Op die valle het hulle nou n Afrikaanse skool. By die ander skole leer hulle net Engels - die Afrikaans word maar net by die huise geleer.  Bybel Geskiedenis word glad nie gebruik in die skole nie - daarom stuur die mense - wat kan - hulle kinders na die Suide om hulle geleerdheid te kry.

Poppie se oom, Jannie, het so bitter berou gehad dat hy ooit sy Vaderland verlaat het.  Hy se hy het sy vrou en kinders vreeslik benadeel - met alles - hulle geleerdheid en alles.

Dan is hier baie, baie mense wat hulle plase wil verkoop om Unie toe te gaan, maar wat nie kan kopers kry nie.  Baie word gewoond aan die dinge om so saam met alles te deel en sien nie iets verkeerds daarin nie. 

Vanmore gaan ons nou na Serfaas hulle toe, en dan sal hy ons weer wegbring na Babs hulle toe.

DAG AGT-EN-TWINTIG:3 OKTOBER 1958 VRYDAG

Ons is toe na Serfaas hulle toe en het die nag daar geslaap.  Dominee en Mevrou was ook daar en ons was bly om hulle daar te sien.  Serfaas en Annatjie het ons toe gebring.  Hulle het ons toe seker so 6o myl na Poppie toe gebring.  So, ons het nou omtrent al gery elke dag van ons gekom het.  

Nou is ons weer van plan om Eldoret toe te gaan om n paar goedjies te kry en dan gaan ons weer na Martjie toe en vanmiddag moet Babs hulle weer sing vir die koor.

Ons het toe by Martie de Jaar gekuier. Toe is Babs en Willie en die kinders weer na die dorp toe. Babs het toe gaan sing en toe het hulle die kinders gaan haal.  Toe ons ry sien ons dit het baie gereen.  Ons kry toe n pap wiel en hulle het dit toe gou weer reggemaak.

DAG NEGE-EN-TWWINTIG: 4 OKTOBER 1958 SATERDAG

Die groot Rift valley


Die Skeurvallei


Willie wou ons die Skeurvallei gaan wys, toe het dit so gereen ons kon nie gaan nie.  Na die reen het ons toe gaan stap.  Babs die vier kinders en ek tot daar by die koringlande.  O! dit is n pragtige plek. Jy kan so ver uitsien en dan die berge en bome en plase en koringlande wat jy kan sien. Dit is so jammer dat die mense so n donker toekoms het vir hulle land en volk - mens voel vir hulle so jammer!


DAG DERTIG: 5 OKTOBER 1958 SONDAG

Daar is vandag n diens waar die eerste Bamboes Kerkie was.  Elke familie of huisgesin moet n klip saam neem om daar op mekaar te stapel.  Ons was toe weg.  Elkeen moes sy eie stoel saam bring.  Hulle het as jy inkom die karre laat in n ry staan in gelid en daarvandaan moes elkeen sy sitplek kry.  Dit was n lieflike more. 

Dominee De Wet het gepreek en hy het sy tekste geneem uit Psalm 78 van vers 3 tot 7 hoe die voorvaders hulle kinders moet vertel van die Here wat vir hulle onderneem het en die jong geslag aangemoedig om die wee van die Here te bewandel.  


Comments

Popular Posts