Hier het ek n reuse groot wetenskap labaratorium. Ek gee nou Wetenskap vir standerd ses, sewe en agt. Sommer gou word die klas n hawe vir n klein hasie en visse en plante. Dit is nogal n groot uitdaging vir my. Ek is nog nie eers een-en twintig nie en van die seuns in standerd agt lyk soos groot volwasse mans. Dissipline beteken net een ding: Hou jou hand uit en laat die bordliniaal praat. As ek nou terug dink sou ek goed soaveel anders gedoen het, maar ek was jonk en ek het geen ervaring of wysheid gehad nie. Ek het nooit in die personeelkamer gekom nie. Ek was letterlik te skaam om met die ander onderwyseresse te praat of om n geselsie aan te knoop. Elke pouse het ek saam met die seuns in die son gesit voor die wetenskap laboratorium. So het ek ook my een-en-twintigste verjaarsdag gevier ... geen blomme ... geen geskenke ... net n broodjie langs n geel baksteenmuur in die son met die seuns.
Ek bly heerlik lekker in Dudley Heights 304 ... die woonstel wat die Transvaalse Onderwysdepartement vir my gereel het as verblyf vir die jaar. Dit is n luukse gemeubileerde woonstel met ondervloer verhitting. In die middae na skool loop ek in die middestad van Johannesburg rond en ontdek al die wonderlike winkels. Vir my as plaaskind is dit n absolute belewenis. Teen die einde van die skooljaar bedank ek my pos en so begin n lang, lang reis voordat ek uiteindelik in die jaar 2000 weer by Valancia Combined School in Nelspruit n pos kry as n Engelse Onderwyseres.
Ek het nou n B.A. Graad met Engels as hoofvak en n Honeurs Graad in Engelse Letterkunde. My leerlinge is meestal Indier en Swazi seuns en dogters. Ek gee nou Engels vanaf standerd ses tot Matriek. Die klasse is vol en die gedrag is anders, want die kultuur is anders. Dit vat nogtans tyd vir my om gewoond te raak aan die skool omgewing. Ek begin gou n koerantjie "Zoom" en Innocent Mashinini word die redakteur. Die radiostasie agter in die hoek van my klas saai musiek en boodskappe uit in die tuin agter my klas waar ons n "Peace Garden" begin het. Stanley help my om my klas se kaste te verf en nou is dit helder geel soos die Afrika son en die tafeltjies en stoeltjies is vir die eerste keer in jare silwer skoon. Die stoorkamertjie van my klas vat letterlik weke om skoon te maak en te organiseer maar toe dit klaar is werk dit lekker. Ek reel n boomplantdag vir die hele skool op boomplantddag en Pinky Phosa is die eregas. Ek besluit sommer gou die trappe wat oploop na die tweede vloer is te vuil en te lelik vir woorde en saam met die " Zoom" spannetjie en ander gewillige kinders in die klas besluit ons om die trappe te verf met grafitti slogans. Meneer Pillay, die skoolhoof gee toestemming en sommer gou het ons al die kleure van die reenboog en vol blikke verf. Meneer Pillay die skoolhoof gee ons n hele skooldag om die traape aan albei kante te verf en dit lyk verskriklik mooi en die kinders het vuur en vlam gewerk, geverf en gelpain. Dit is n reuse sukses en die Laevelder koerant skryf n artikel. Teen die einde van 2004 word ek genomineer as onderwyser van die jaar en ek word n finalis. Vyf jaar by Valencia Combined Skool vlieg soos n droom om en op 4 Desember 2005 maak ek klaar. Ek het die beste gedoen wat ek moontlik kon en ek laat kinders agter wat hou van Poetry, van Atticus Finch in "To kill a Mockingbird" en kinders wat n Shakespeare Sonnett kan skryf in tien minute.
In Auckland is ek terug op Universiteit vir n Graduate Diploma in Teaching Secondary. My eerste proeftydperk is by Orewa college op die North Shore. Dit is n moeilike proeftydperk van agt weke. Die personeel waarmee ek moet saamwerk in die Engelse Departement is nie oop en vriendelik nie. Vir my as n vreemdeling vir wie alles en almal nuut is is dit moeilik. Die vrou by die fotostaatmasjien laat my huil en later terug op univerrsiteit se my lektor die terugvoer van Orewa College se dat hulle nie kon verstaan hoe n vier-en- vyftigjarige vrou actually kan huil nie. Ja, dis waar want nie een van hulle was nog ooit n immigrant, n vreemdeling in n vreemde land.
My tweede proeftydperk is tonne beter. Ek is weer agt weke lank by hierdie skool maar hier laat hulle my tuis voel en hulle help en ondersteun my. Tony Worth is die Hoof van die Engelse Departement hier by Liston Catholic College, en elke oggend sit hy in die personeelkamer en vir elkeen van die onderwysers in sy departement vra hy: "wat doen jy vandag, wat het jy nodig ... wat kan ek doen vir jou vandag ... het jy resources nodig vir vandag? Dit is so n groot, groot verskil en hier begin ek blom. Ek maak resources vir die Engelse Departmentt en word sommer gou Tony se regterhand. Hy se eendag vir my: " Elizabeth we are going to get you into a good Catholic Girl's School" en daar begin ek toe by Saint Dominic's Catholic College op 1 Januarie 2007 as n English and Media Studies Teacher en bly daar vir amper twintig jaar.
Ek het n hele aparte blog geskryf oor my skoolhou by Saint Dominic's Catholic College. Dit was swaar ... baie baie swaar. My beste herinneringe is die vriendinne wat ek gemaak het en veral my vriendin June Rodriques. June is aan kanker oorlede aan die einde van 2023. My hart het in duisend stukke gebreek. My grootste bydrae by die skool was dat die skool onder my leiding in 2021 n Gold Enviro School Award gekry het. Jare se harde werk en toewyding vanaf 2009 het dit moontlik gemaak.
Ek het altyd gese ek wil nooit aflos werk doen nie want kinders behandel aflos onderwysers baie sleg. In my tweede afgetrede jaar vra iemand my om afloswerk te doen by n katolieke skool in Masterton. Na n dag of twee by hierdie skool bied hulle my n langtermyn pos aan om afloswerk te doen in n gemengde jaar sewe en agt klas vir n onderwyseres wat op spesiale verlof afwesig is. Niksvermoedend stem ek in en begin my termyn by hierdie skool. Die gedrag is so sleg dit voel of die kinders in die klas is vir n social. Glad en geheel nie in die klas om iets te leer nie. As ek iets wil projekteer om te leer is daar altyd iemand met n foon erens in die klas wat dit op n ander program of n dans ritme gooi en dan lag almal asof dit n groot grap is. Daar is geen stelsel en geen dissipline in plek nie. Kinders maak die deur oop van buite af loop in en uit soos hulle wil. Dit is n absolute onmenslike situasie. So erg is dit dat ek een oggend met teetyd verrlof vra om huis toe te gaan. Ek was letterlik siek as gevolg van die gedrag. Dit het n geweldige inpak op onderwysers om skool te hou in n skool waar geleerdheid nie n waarde het nie. Dit was verstommend dat hierdie skool die naam gedra het van n Saint. n Man wat sy lewe opgeoffer het vir ander. Saint Peter Chanel n Franse sendeling het na die eilande toe gekom as a sendeling en is op die eilande vermoor. Dit was die naam van hierdie katolieke skool maar daar was geen - geen teken van die spesiale katolieke karakter in hierdie skool nie. Om n voorbeeld te gee. Een dag stap ek van die personeelkamer af terug na my klas toe. Daar kom toe n groep van so ses of sewe dogters van voor af en toe ek langs die groepie kom steek een van die dogters haar vinger in haar keel en maak so n geluid soos iemand wat opgooi en toe hoor ek hoe een van hulle die volgende se:' I hate this teacher". Wow! hoe verskriklik is dit. My pa sou my blou hale geslaan het as hy gehoor het ek doen dit en dit sou nooit ooit eers by my opgekom het om so iets te doen of te se nie.
Dit is nie wat ek verwag het van shoolhou nie. Dit is te swaar.
Op n dag is daar n advertensie vir n ses maande aflos pos by Dannevirke High School in die Engelse Departement. Ek begin aflos vir n dag of wat en een oggend roep die shoolhoof my in haar kantoor in en bied my die langtermyn pos aan. So begin ek toe op die eerste dag van die derde kwartaal in 2024 in die Engelse Departement. Ek neem oor by n Afrika vrou van Zimbabwe. Ja wat sal ek se ... ek wil nooit, ooit weer my voet by hierdie plek insteek nie. Wat n aaklige, aaklige plek ... ek was getraumatiseer vir maande!
In 2025 begin ek skoolhou in die Engelse Departement by Kurunoi College in Greytown. Ek bedank op dag ses by die skool. In my ganse onderwysloopbaan was ek nog nooit op n plek waaar ek minder wou wees as in die skool nie. Ek kon nie n minuut langer bly by hierdie skool as wat ek daar moes wees nie. Hoe mense hier kan skoolhou jaar in en jaar uit gaan my verstand te bowe.
Na n rukkie by die huis sonder werk begin ek aflos by Saint Peter's Catholic College in Palmerston North en toe later by Palmerston North Boys High en Tararua College. Tararua College in Pahaitua is naby my in Eketahuna. Die skool geboue is splinter nuut. Al die klaskamers het matte in, heatpumps, die beste tegnologie maar die gees ... dieselfde as Dannevirke High School. Dieselfde onsmaaklike gedrag en houding teenoor my as onderwyser wat ek ervaar het by Chanel College in Masterton is ook hier teenwoordig. Ek vind dit snaaks, vreemd selfs boosaardig.
Ons huisie in Eketahuna verkoop op 21 April 2026 en ek doen nou net aflos werk by Palmerston North Boys High. Hoe wens ek nie dat ek my skoolhou loopbaan hier kon begin het nie. Hierdie skool is alles wat ek van n skool verwag. Goeie leierskap, ondersteuning, kameraderie onder die personeel, georganiseerd, gedrag is ingebou in die karakter van die skool en met respek. As n onderwyser inkom in n klas staan al die seuns op soos een man en groet die persoon uit volle bors. Ek voel veilig en geborge by hierdie skool en dit is my gunsteling skool en die skool waar ek sal ophou skoolhou ... eendag!
Comments
Post a Comment
COMMENTS