Spoorweg huis op Kelso, Suidkus van Kwa Zulu Natal Suid Afrika
Ek dink hierdie huisie hier bo was die huisie wat ons in gebly het. In die kamer hier regs bo het ons geslaap. Daar was n groot sit eetkamer in die middel van die huis. Nog n eetkamer langs die sitkamer dan die kombuis en badkamer heel agter. Die wit muurtjie en die hekkie voor is nuut. Toe ons hier gebly het was daar n groen heining voor die huis.
Ons was so arm soos kerkmuise. Stanley het $900 n maand gekry as Leerling Tuinboukundige. As hy geld gekry het, het hy n krat kerriegroente, n sak aartappels, n kassie tamaties en n sak mieliemeel gekoop. Dit was ons kruideniersware vir die maand. Dan het ons net n bietjie geld oor gehad vir petrol en medisyne as ons dit nodig het om n dokter te besoek met Gracie.
Tot groot ontsteltenis wou Gracie nie meer drink nie. Sy huil en huil en huil. As ons in die blou Datsuntjie inklim huil sy. As ons uitklim huil sy. As ons slaap huil sy. Sy wil nie drink nie en my borste. My borste word groter en groter en groter en op n stadium dink ek by myself - ek gaan opstyg soos a balloon en hoog in die wolke in verdwyn. Daar is nie manier wat ons vir babamelk kan betaal nie. Ons is arm. Arm soos twee kerkmuise.
Ek kyk na die Zulu vrouens by die winkel op Kelso stasie, daai mamma gooi sommer die bors so agteroor oor haar skouers en die babatjie sit en drink lekker op haar rug, en ek wens ek kan vir haar vra om my te help. Gracie wil nie drink nie!
Ten einde raad koop ek n blik babamelk op Scotburgh. Gracie wil niks weet nie. Ek koop n ander soort. Gracie wil nie weet nie. Ek koop bokmelk poeier melk. Gracie spoeg dit tot in die hoek van die kamer en dit rol so n straal teen die wit muur af. My ma se: " Probeer n bietjie flou Rooibos tee en ... Gracie drink die tee en slaap vir die eerste keer in dae. Van toe af is dit flou Rooibos tee en flou appelsap. Dit is waarvoor sy lus is en sy hou op huil en sy slaap.
Ons het niks geweet van roetines en slaaptyd nie. Ons het niks geweet van niks nie. Ons het ons bes probeer. Daar was niemand om ons raad te gee of om ons te help nie. Stanley het vyf uur in die more die trein gekry op die Kelso stasie, Durban toe, om te gaan werk en sewe uur in die aand het hy by die huis gekom na n lang dag in die warm Afrika son en bloedsweet buite werk. Ons was arm en alleen, maar ons het ons bes probeer! Altyd en altyd ons heel beste probeer!
|
Comments
Post a Comment
COMMENTS