Bosveld vure is gevaarlik want die gras is droog, die bome is droog en in n oogwink is alles aan die brand
Ek was omtrent so tien of twaalf jaar oud. Ons was op Park - ons bosveldplaas daar in die arm van die Kliprivier. Dit was wintervakansie. Dit was laat agtermiddag toe my pa die rook sien trek op die berge - so ent van die plaashuis af. In die bosveld loop die vure sommer vinnig. Dit loop soos petrol op n klomp papier, want die veld is droog. Baie, baie droog.
My pa spring blitsvinnig in die groot groen Gontsier en ek is saam. My pa wou eers tee praat maar ek is adamant ... waar pa gaan, gaan ek.
Hoe nader ons aan die vuur kom hoe wilder lyk dit. Die beeste is in die kamp waar die vuur is. Ons ry sloot op en sloot af en so ongeveer onder waar die pad onder die berg is, waar die vuur brand stop my pa. "Jy moet nou hier in die lorrie bly" se my pa. "Wag hier vir my, ek moet nou klim tot waar die vuur is en kyk of van die plaashulp opdaag sodat ons die vuur kan dood kry! Bly hier" se my pa weer.
Ek kyk na die rook en ek kyk na die vlamme en ek kyk na die grondpad voor my en my hart versteen. Alleeen in die bosveld is regtig alleen. Daar is nie n enkele siel in sig nie. Dis net die Mopani bosse, die droe gras en die stilte. Eers laat sak ek my kop en maak my oe toe. Dan sak ek af onder die dashboard in en probeer myself kleiner maak as wat ek is. Onder die dashboard sit ek nie vir lank nie - toe ruk ek die deur oop van die groot, groen Gontsier en toe my voete die grondpad vat hol ek.
Ek ken die pad plaashuis toe en met my hart in my keel begin ek hardloop. Die growwe sandgrond van die plaas paadjie vreet gou blase in my kaal tone. Heuwel op en heuwel af hardloop ek. Die vrees laat my vergeet van moegheid. Onder in n laagte kom die rooi Afrikaner beeste van die berge af en maal angsbevange en al bulkende in n maelstroom saam. Vir n sekonde huiwer ek of ek hier kan deur - maar die rook en die vlamme en die vrees dryf my aan soos n groot masjien en ek harloop.
My voete is seer en die blase op my groot tone voel dik maar ek hardloop. Skierlik onthou ek van die luiperd wat hier by die ou wa n nes kom maak het en toe hol ek eers. Hier by die wa weet ek die huis is nie meer ver nie - en ek hol. Ek voel nie meer die pyn van die oop blase nie. By die watervoor so ent van die plaashuis af kan ek nie meer nie en ek val langs die voor neer en begin roep. " Ma... mamma ... ma!"
Daar kry my ma en my sussies my toe. My voete is oop en rou en die bloed stroom uit my groot tone uit. Vyftien myl berg op, berg af, deur die trop rooi Afrikaner beeste, verby die luiperd tot by die huis!
Die veld brand ma! Die veld brand daar op die berg en pa is daar bo in die berg! |
Comments
Post a Comment
COMMENTS