DIE TREINRIT VAN KAAPSTAD TOT IN DURBAN 1987
Stanley kry na sy studies n pos as Leerling Tuinboukundige by die Suid Afrikaanse Spoorwee in Durban. Gracie is omtrent twee maande oud toe Stanley op die trein klim en vir ons totsiens se. Ek bly agter in die Kaap om alles te reel en af te handel.
Ek moet reel dat ons Datsun Bluebird met die trein opgaan tot in Durban. Ek moet n kwartaal kennis uitwerk by die Vera Skool en aan die einde van die eerste kwartaal gebeur dit toe dat al die kinders en Guillome vir my en Gracie kom totsiens se op die Kaapstadse stasie omtrent sewe uur in die aand.
Gelukkig het ek n enkel kompartement vir my en Gracie, maar van slaap is daar geen sprake nie. Ek probeer borsvoed maar hoe langer die trein aanslinger, hoe groter word die nagmerrie. By Beufort-Wes weet ek al klaar dat die kondukteur verseker weet ek borsvoed n baba. So gereeld soos klokslag is hy voor my deur met sy sleutel en dan swaai hy die deur wawyd oop en daar sit - ek met my borste en my baba in die oop en bloot!
Op Bloemfonteinstasie moet ek my klein drie maande oue babatjie gou bad teerwyl die trein op die peron staan. Ek hardloop gou in die wagkamer in met my blou plastiese skotteltjie, babapoeier, lyfroompie, skoon nagkleertjies, handdoek en Johnsons's Lavender Baby bath. Inderhaas kry ek die skotteltjie vol met n bietjie lou warm water. Vyf minute later is Gracie gebad en gepoeier en ons is terug in die kajuit. Ek kry vandag nog nagmerries as ek dink aan die gevolge van n Kaap-Durban trein wat uitstoom uit die Bloemfonteinse stasie en ek weerloos met n drie maande oue babatjie in die wagkamer. Die koue sweet tap my nog steeds af as ek net daaraan dink!
Deurnag stoom die trein deur die Vrystaatse vlakte en elke drie uur moet ek borsvoed. So gereed soos klokslag is die kondukteur by my deur. Ek sweer hy het sy horlosie gestel op my borsvoed tye. Met groot genot slinger hy die staal-sleutel in die kompartement se deur en met groot geraas genot swaai die deur oop so groot as wat dit kan. Daar sit ek ... weerloos ... my klein babatjie aan my bors ... en die kondukteur ... die kondukteur ... hy staar!
Vroeg die volgende more stoom die trein die Durbanse stasie in. Die humiditeit en die hitte slaan soos n vuurwolk op teen my gesig. My babatjie is baie moeg en taai van die hitte en die steenkool roet op die deurnag trein. Dan sien ons hom. Daar staan hy op die peron. Stanley! Soos altyd getrou op sy pos!
Dis n lang rit tot op Kelso ons nuwe huisie. Uiteindelik is ons daar en so begin ons nuwe lewe weer n keer, nou hierdie keer op die Suidkus van Natal!
Comments
Post a Comment
COMMENTS