CHIEFTAINSPLEIN

 


Dit was in die laat sestiger jare toe my pa hierdie wonderlike middelplaas koop.  Vierduisend morge van berge veld hoe koue vlaktes bo op die berge, met soet gras en die lang vallei al met die Kliprivier langs totdat dit by Park ons bosveldplaas aansluit.

Chieftainsplein le aan die anderkant van Draaikraal, by oom Willie en tant Bets Davel, se plaas verby, oor die smal bruggie, al met die smal kronkelende paadjie af tot waar die paadjie ophou.  Hier staan n klein grasdak huisie voor die groot berg en ver onder druis die Kliprivier oor reuse blouklip blokke.  Dit is n wilde plek. Dit is wilder as wild.  Daar is n huisie, die berg en die rivier.  Dit is al!

Die klein huisie word ons slaapplek, woonplek en gelukplek as my pa hier op Chieftainsplein met die beeste of die skape moet kom werk.  Sommer gou bou my pa n springdip daar onder langs die rivier en soos die beeste afkom van die berge af word hulle gedip.  Gewoonlik trek hulle dan al met die rivier langs na die winterweiding op Park - ons bosveldplaas.

Die huisie is eenvoudig maar warm en veilig.  Daar is twee vertrekkies. Die eerste vertrek het n swart koolstoof in, n dubbelbed en n klein tafeltjie en stoele waarby ons eet.  In die tweede kamertjie hou my pa die sout en Rumevite - n beeslek, en talle kanne dipstof. 

Op n dag, terwyl ons vir n paar dae met die skape moet werk, begin dit reen.  Dit reen en reen en reen.  Deur die nag hoor ons hoe brul die rivier daar doer onder en ons staan kort-kort op om te kyk of die tweede kamertjie se mure nog staan. Die mure is van modder en gras en vir ons lyk dit of die mure nie hierdie storm gaan oorleef nie.  Met benoude harte word almal die volgende oggend wakker en so in die motreen loop almal af rivier toe.  Die Kliprivier loop kant en wal.  Die bruin, kokende massa water raas en blaas oor die blouklip banke en sleur reuse groot boomstompe met brute krag mee. Vir dae is ons hier vasgekeer.  Daar is geen manier om uit te ry nie.  Die pad uit is totaal en al missing.  Om uit te loop is te gevaarlik want die Kliprivier is in vloed.  Op en oor die berge is ook nie n oplossing nie - te ver , te hoog, te glad, te gevaarlik.

So bly ons toe in die klein twee slaapkamer huisie op Chieftainsplein vir meer as n week.  Goeie bonding tyd. Goeie bonding tyd in die eenvoud van n klein modder huisie met twee slaapkamers en kanne beesdip en soutlek! Sal ek dit ooit vergeet!

Comments

Popular Posts