TANT ANNIE EN OOM ROOIFAAN
My oupa was weer siek of iets. "Julle moet vanmiddag by tant Annie en oom Rooifaan afklim" se my ma. Ons was nog nooit by hulle nie. Afklim sal ek afklim want my ma se so!
Daardie middag stop die bus met so n rooi stof streep voor die wit huisie ander kant die rooi sloot. Baie stadig stap ons tweetjies al met die grond paadjie af en draai dan in en op tot by die voordeur. Ons staan stok-stil voor die voordeur en dan soos blits swaai die deur oop. Daar staan die tannie. Sy is lank en regop soos n stok en maer, vreeslik maer. Hier vanonder as ek so op kyk sien ek net lippe. Haar lippe vou so in en om mekaar maar dan sien ek dit - een tand! Daar doer bo in haar amper kaal mond sit een lang tand so skuins wes aan die bokant van haar mond.
Dis n stil donker huisie. n Huisie waar daar nie baie galag word nie. n Huisie sonder kindertjies. Net die oom en die tannie en die donker huisie.
Die oom werk buite. Buite is n lang erf tot onder by die leivoor. Die oom boer met knoffel. Rye en rye knoffel breek die aarde oop met hulle lang groen gladde blare. Die oom en die tannie dra elkeen n sakkie vol knoffel om hulle dun nekke. Dis so snaaks vir my. Later toe ek kans het om my ma te vra hoekom oom Rooifaan en tant Annie elkeen n sakkie knoffel om hulle nekke dra, se my ma ewe sedig:"Om die verkoue kieme weg te hou. Verkoue kieme hou nie van die knoffel se reuk nie".

Comments
Post a Comment
COMMENTS