Al wat oor is van die meule is die waterwiel
Ek onthou hoe ons as kinders die lang paadjie aangepak het na die winkeltjie toe by die meule. Die paadjie het verby tant Martjie Herholdt se huis gegaan en dan op oor so n bultjie en ander kant af, dan deur die rivier en op met die trappies tot by die winkel waar ons "Fruit salad" kon koop. Vir ons was hierdie lang slap marshmallow strepe die verpersoonliking van alles - heerlik. Dit het sag kom le in ons kinder mondjies en op warm dae het ons dit lank uitgerek en dan met n verkleurmannetjie tong stadig ingesuig. So lekker ... so lekker ... lekkerder as lekker!
Eers nadat ons al ons geldjies in die winkel gespandeer het, het ons stadig uitgeloop in die wit warm Afrika son net om vinnig slaprand hoedjies oor oe te trek. Van onder die hoed se rand het ons stadig bewus geword van die reuke en die geure rondom die meule hier vlak langs die winkel.
Die geruis van die water het n mens eerste gehoor. Die kristal glas water het in n dik stroom tot voor die groot yster wiel geval en dan met skeppies oor en oor - oor die wiel getuimel en dit laat draai. Om en om het die reuse stroom water die groot wiel van die meule gedraai. Oral rondom die meule het mense gesit of gestaan met hulle donkies. Die donkies het ewe geduldig gestaan en herkou terwyl die vragte mielies en koring gemaal word. n Mens moes mooi trap om tussen die donkies en donkie mis deur te kom, want dit was oral.
Binne die meule was alles wit. Wit van die meel wat stadig maar seker almal en alles met n wit laken oordek het. Oom Gerrie van den Heever wat in die meule gewerk het, het altyd so n groen "overall" gedra en voordat hy kon groet moes hy eers sy oe uitvee om jou te kan sien en vir jou om hom te kan sien.
Die meule was een groot masjien. Reuse skroewe en skarniere en parte het op en af gedraai en om en om gespook om die graan te draai tot meel. Die mielies of die koring is bo in gegooi en die going sakke is onder aan die voorpunt van n soort sluis vasgemaak. Dit was te wonderrlik vir woorde om n mens se hand so aan die voorpunt van hierdie sluis te hou en te sien hoe die fyn mieliemeel of koringmeel so oor jou hand in die sakke val. Die geraas van al die masjiene en skroewe en skarniere ... en die water was so groot dat mens net iemand se mond kon sien beweeg maar om iemand te hoor moes jy uitgaan buite toe waar jy enigsins iets kon hoor.
Dis my kleintyd, speelplek, onthou plek die - die meule - daar in die hoek verby tant Martjie se huis, af met die koppie, deur die rivier en dan op tot by die winkeltjie en as jy omdraai die wereld hier onder jou van donkies en meel en wit gesigte wat praat sonder dat jy iets kan hoor! |
Comments
Post a Comment
COMMENTS