MY SIEK OUMA
My ouma Bettie was verskriklik lief vir rose - die hele eerste terras voor die huis was vol rose.
Ek weet nie hoe dit gebeur het nie, maar een oomblik het ons nog in ons nuwe huis op oom Sam se plek gebly en toe moes ons terug trek na die huis op "Witpoort" toe, want my ouma was siek ... baie siek.
Ek onthou ons het sommer terug geloop van oom Sam en tant Lettie se huis, waar ons gebly het, deur die lopie en daardie eerste nag het ons almal op die vloer geslaap want die beddens was nie opgemaak nie.  Daardie aand daar op die vloer het my ma vir ons vertel ons gaan n sussie kry.  My laasste sussie is op die 14de April 1960 gebore. My ouma is op die 19 e Februarie 1960 aan maag kanker oorlede.
Ek onthou eendag spesifiek wat my pa ons nie laat skool toe gaan het nie. Ek onthou dat ek by die kombuisdeur gestaan het en na die skoolbus gekyk het wat bo by die pad verby ry.  Ek dink my ouma was daardie dag te siek en dat my pa gedink het sy sou sterf die dag, maar sy het nie.
Sy het die Junie maand siek geword.  Ons het net een middag van die skoolbus afgeklim en toe was daar niemand by die huis nie.  Sara ons huishulp het vir ons gese: "Ounooi is siek en oubaas en die basie het vir ounooi dokter toe gevat op Dullstroom".
Ounooi het nie saam terug gekom huis toe nie.  Toe sy uiteindelik terug kom vanaf die hospitaal in Pretoria was sy totaal n ander mens.  So siek was sy dat sy vir dae en dae op haar sy gele het en net na die bloekombome buite die venster gestaar het.  My ouma se sussies het kom help.  My oupa en my pa het haar omgedraai en my ma, my dierbare ma, wat my sussie verwag het, het alles verder gedoen.  Dag en nag het sy my ouma versorg.
My ouma gewas, haar lang hare geborsel en gevleg, die bedsere skoongemaak, my ouma op die bedpan gehelp en toe sy nie meer kon nie het sy vir my ouma se sussie, tant Marietjie, gevra om te kom help.  My ouma wou niks weet van die nuwe reeling nie. Sy het vir my ma gese: "  Hannie wil jy my nou weggooi op die einde?" ... en net soos Naomi en Rut was my ma ook so Bybels, so heilig in my kinder ogies.
Ek onthou die aand voor my ouma se dood. Ons was almal by haar in die kamer.  Die blou kamer daar op "Witpoort" voor die badkamer.   
My pa het huisgodsdiens gehou in my ouma se kamer en ons het almal op die bed rondom haar gesit.  Ons was almal so bly want sy het regop gesit en ons het gedink sy word beter.  
Die volgende dag was Sondag, en my pa het ons geroep om by my ouma te sit. My ouma het nie meer gepraat nie, sy het net in die een hoek van die kamer gekyk.  Ek het gewonder ... wat was daar ... wie was daar? So teen drie uur daardie Sondagmiddag het my ouma gesterf.
My ma en die tannies het my ouma gewas en toe het hulle vir haar n skoon wit nagrok aangetrek, haar hare geborsel en met n wit fluweel lint vasgevleg. Hulle het my ouma saggies in n kis getel.
My pa en my oupa het my ouma se kis in die waenhuis op stene gesit en ons moes by my ouma sit.  Die volgende dag is my dierbare ouma Bettie begrawe in die rooi aarde bo-op die koppie. Sy is begrawe in die familie begraafplaas wat uit kyk tot daar waar die son saens onder gaan doer ver, waar die Steenkampsberge n muur maak! 

Comments
Post a Comment
COMMENTS