EERSGEBORENE
In my ouma se kamer maak ons alles bymekaar. My ouma se bedlaken word ons tas. Op die vloer gooi ons alles in wat ons sal nodig kry vir die wereldreis. Ons slaapklere, komberse, en ons kerk hoede. Toe rol ons die bondel op en na n groot geworstel staan ek stadig op met die reuse bondel op my rug. My ma en ouma is besig om konfyttertjies te bak en hulle is salig onbewus van ons!
By die lopie, so ent van die plaashuis af, val die bondel in die water. Dis nou nog swaarder, maar met n groot gesukkel kry ons dit weer op my rug. My sussie mag nie swaar dra nie want sy moet die pad dop hou. Toe die son so begin weg sak in die weste - stop my pa agter ons. Met n groot gelag en baie verbasing tel hy my op, tesame met my groot bondel en plak my hardhandig in die bruin Ford neer.
Sy was altyd die plan maker, my sussie. Saens in die donker kamertjie agter my pa en ma se kamer, voor ons slaap vertel sy vir my stories. Saggies, saggies, want as my pa gese het ons moet slaap, moes ons slaap. Dis n storie van voeltjies ... van n mossie en alles wat hy sien. Van sy nessie, van sy voeltjie kindertjies en van sy groot hartseer as dit reen en sy nessie waai weg. Ek wil nog luister en ek knip-knip my oe, want wakker bly wil ek tog so graag, maar dan as ek die arme mossie nog so voor my sien, vlieg ek stadig ver weg - tot daar VER waar die voeltjies lewe!

Comments
Post a Comment
COMMENTS