2,300,000 THE AMOUNT OF WORDS WRITTEN IN THE SAND
2,300,000 THE AMOUNT OF WORDS WRITTEN IN THE SAND |
DIT IS JANUARIE 2009. Ek wonder wat die jaar sal bring. Net vas hou aan die Here ...dis al!
Banjamin het vir my n boekie gegee met n rooi leer omslag. Boekie vir Kersfees. n Boekie waarin ek vir jou my stories gaan vertel. Al die stories van my kleintyd.
Ek het besluit om alles neer te skryf sodat jy kan weet waar jy vandaan kom Benjamin. Jy vra altyd so baie vrae en dit is n goeie ding om vrae te vra want dan kry mens antwoorde. Jy was baie jonk toe ons hier na die vreemde land toe gekom het.
My ouma Ras, dis my ma se ma, het altyd vertel ek is op my ma se bed gebore so 9 uur in die more. My ouma het altyd vertel my hande het eerste uitgekom en toe sy my hande sien toe se sy: "Dis oupa Nollie se hande ... groot hande wat mense kan help. Dit was 22 Maart 1951.
Ek onthou die dag toe my sussie, wat drie jaar ouers as ek is, n rooi driewiel gekry het. Ek onthou ek het tussen my ouma en oupa, my pa en ma gestaan op die sement voor die agterdeur en ons het gestaan en kyk hoe my sussie fiets ry. Waarskynlik was dit my eerste gewaarwording van my eie lewe.
Daar was altyd n foto van my sussie en ek op "Park" - dis die bosveldplaas daar in die arm van die Kliprivier, naby Steelpoort in Suid Afrika, waar ek agter op die fietsie staan en my sussie trap. My haartjies was altyd kort gesny met n strikkie vasgemaak bo-op my kop. Ek was altyd baie lief vir die sker en het sommer gou-gou my hare bygekom met die sker. Partykeer was daar groot happe
in my hare en my fringe was non-excistent want my grootste lekkerkry was om voor die lang spieel in my ma se kamer haarkapper te speel.
Saterdag 28 Desember 2009
Waar was ek nou weer Benjamin? O! ja by die driewiel op die stoep.
Voor die agterdeur op "Witpoort" was daar n roostuin en agter die roostuin n heining met sulke rooi blommetjies en dan was daar die Camelias wat altyd afgeval het. Die blomme het altyd afgeval en onder die boom gele. My ma het altyd gese hulle kry nie genoeg water nie dis hoekom die blomme afval.
My ouma en oupa het by ons in die huis gebly. Hulle het twee kamers gehad. In die somer het hulle in die agterste kamer geslaap op die stoep en in die winter het hulle in die middelste kamer geslaap by die badkamer.
My ouma se naam was Bettie ... soos my naam Elizabeth Maria. Sy het lang, lang hare gehad wat sy in n bolla vasgemaak het. In die aande het ons by hulle op die bed gesit en dan het my oupa my ouma se lang hare geborsel en gevleg in n lang string. Sy was so n fantastiese mens. Elke Sondag het sy Sondagskool gehou vir al die kinders op die plaas. Met Kersfees moes my pa n groot denne tak afkap vir n Kersfees boom. My ouma het die Kersfees boom in die waenhuis gesit en dan het elke kind n persentjie gekry. Gewoonlik was dit n waslappie met n stukkie seep.
My pa het altyd die skape oor Kersfees geskeer en my ma het perskes gedroog as die skeerdery klaar was. Die hele Desember maand was die waenhuis vol skeerders, bale wol en skaapmis.
Ek onthou nog die skeerders. Daar was n Balegwa, n Jermes, Thomas, Kleinbooi en Pikenien en baie ander wat ek nie meer kan onthou nie. Balegwa was n pikswart man met n groot, groot maag. Hy het altyd sy broek vasgemaak met n stuk tou. Belegwa kon vreeslik vinnig skeer. Ek onthou hoe die sweet op sy kaal, swart rug en maag afgestroom het as dit so warm is in die waenhuis waar twintig tot dertig skeerders van sonop tot sononder gespook het om die skape klaar geskeer te kry, voor Kersfees.
My ma en ouma se werk was om koekies te bak en gemmerbier te maak, vir Kersfees. My ma en ouma het dae om gebak. Ek onthou die konfyt tertjies. Die aand voor die tyd het my ma die deeg aangemaak in die groot knieskottel en dan het die skottel deeg daardie nag op die dak geslaap om koud te word. Almal moes help. Een sussie het konfyt ingeskep, een het toegevou, een het eiergeel opgesmeer en die laasste een het in die panne gesit.
Daar was spesiale koekies vir die skeerders en elke middag het hulle tee gekry en skeerder koekies. My pa het die wol geklas en elke keer as n skeerder klaar was met n skaap het die skeerder n boontjie opgetel en in n tabaksakkie gesit wat aan sy belt gehang het. Aan die einde as al die skape geskeer was het elke skeerder sy boontjies getel en my pa het hulle dan betaal vir die aantal skaap wat hulle geskeer het. My pa het elke vlies opgetel en oop gegooi op die skeertafel. Die skeertafel was n vierkantige tafel van hout gemaak met plankies bo op sodat die afval wol kon deur val op die vloer onder die tafel. My pa het dan die vlies gerand, die rug wol uitgehaal en geklas in A,B of B1. Hy het n stukkie wol so oor sy linker duim getrek en afhangende van hoe lank die wol was is dit geklas. die bale was almal gemerk en my pa het die wol dan in die baal ingegooi waar dit in geklassifiseer is.
Ons vier dogters het altyd skeertyd so vreeslik geniet. Dit was vir ons een groot feestyd om saam met my pa in die waenhuis te wees - sooo lekker vir ons. Ons moes altyd die bale trap om dit vas op mekaar te kry. Partykeer het ons sommer binne in die baal wol aan die slaap geraak.
Ek het besluit om alles neer te skryf sodat jy kan weet waar jy vandaan kom Benjamin. Jy vra altyd so baie vrae en dit is n goeie ding om vrae te vra want dan kry mens antwoorde. Jy was baie jonk toe ons hier na die vreemde land toe gekom het. Pappa en ek het dit gedoen om n beter toekoms vir jou en Gracie te verseker. Dit was bitter swaar vir ons almal maar onthou altyd jy kom van n lang lyn van ouers, en groot ouers en agter groot ouers wat die Here dien!
Comments
Post a Comment
COMMENTS