"KRUPPEL"
“KRUPPEL” MY LANDRAS VARK VRIENDIN
Elizabeth M Jones
Een somer gee my pa my n werk. My werk is om die varke kos te gee. Ek was so twaalf of dertien jaar oud. Oud genoeg om verantwoordelikheid te vat vir van die diere op Witpoort. My pa het my geleer om n konka vol mielies te maak en dan die konka tot bo toe vol te maak met water. Die mielies het dan oor so dag of twee begin gis en baie sag geword. Ons varke was mal oor hierdie suur-soet dis.
Op daardie stadium het ons so ses of sewe varke gehad. Hulle was wild. Rerig wild. As my pa hulle vendusie toe wil vat moes al wat leef en beef in n ry loop al met die klawerland af, tot by die rivier om hulle doer onder by die rivier, uit die bosse uit te dryf.
Die varke was almal … net varke. Hulle het aangeharloop gekom as ek roep, vining die gis mielies opgegobble end dan net so vining weer stert oorent terug gehardloop van waar hulle vandaan gekom het. Dit was almal wit Landras vark kruisings - met lang wit lywe en kort bene. Dit was goeie slag varke.
Aan die begin van die somer het al die varke vir my dieselfde gelyk. Soos die dae in weke verander het, het ek haar opgemerk. Sy was die grootste van al die varke. Sy het kruppel geloop. Dit het gelyk of haar een heup laer was as die ander een en asof sy in pyn was. Op n dag het ek al my moed bymekaar geskraap en haar saggies oor haar skurwe rug gestreel. Dag vir dag het ek meer waaghalsig geword. Toe – eendag waag ek dit om n growwe klippie op te tel en begin haar krap. Lang hale op haar growwe, skurwe vel. Dit was asof haar bene onder haar swik en in n beswyming van heerlike genade sak sy op die grond neer. Sy hou van krappies - dink ek toe!
So, word dit ons agtermiddag ritueel. Toe kry sy ook haar naam … “Kruppel”. Haar heup was gebreek of iets want mens kon sien sy het pyn. Net daar tussen die varktrog en die rooi aarde vleg n kind en n vark n diep liefdesband. As die son begin draai, doer onder die Steenkampsberge begin ek roep. Een vir een arriveer my span en maak hulleself staan romdom die trog vol mielies … sag en soet!. Dis n groot gestoei en n gestamp en so slurp, slurp word vark mae vol. Propvol mielie gis. Ek kan net dink wat in daai mae angegaan het. Mae vol geel mielie gis!
Dan as almal so stert omhoog wegdraf om in die klawer in te verdwyn bly Kruppel hier langs my le. Sy stoot-stoot so met haar sagte nat snoet en dag na dag begin ek om haar taal beter te verstaan. Ek maak myself gemaklik op n klip en Kruppel, sy kom le hier neffens my. Dan begin ons. Doer bo by die ore. Al met haar snoet af krap ek ewe plegtig, dan af met die lang plat lyf. Met lang sagte egalige hale krap ek van die boude tot die blaaie en dan weer van die blaaie tot die boude. So erens tussen in se ek:” Draai om Kruppel” dan draai sy ewe plegtig op die ander sy en dan begin die spa sessie van voor af op die ander kant. Tussen al die gekrap en geskrop snork sy heerlik en miskien vir een oomblik vergeet sy van die pyn in haar heup.
Dis wonderlik wat een lang somervakansie kan doen om n band te vleg tussen n vark en n kind. Later sit ek sommer so plat op die grond en nog later met my kop so op haar vol maag raak ons altwee aan die slaap.
Wat n voorreg was dit nie om n hele somer lank n varkwagter te wees nie. Hoe kan ek ooit genoeg dankbaar wees vir n grootword pad van slim word en wysword tussen koeie, varke, perde en honde. Dankie “Kruppel” my vark vriendin! Jy leer my dat ons een groot werk hier in hierdie tyd, op hierdie plek is ... om te leer ... om lief te he!
Comments
Post a Comment
COMMENTS