VERTEL VIR MY N STORIE

 


Kom sit hier op die bank langs my.  Ek wil vir jou n storie vertel.  Ek onthou dit so goed.  Ons was op Park.  Ons bosveldplaas daar in die arm van die Kliprivier.  Ma en pa, jy en ek.  Jy het n rooi driewiel gehad en ek het agterop gestaan met my vet armpies om jou nek.  Daar was so n snaakse trappie aan die agterkant van die driewiel en jy het getrap en ek het gestaan.  Agter op gestaan.  Om en om het ons gery met die rooi driewiel, daar op die groot - oop sement stoep op Park.  


Erens tussen die om en om op die stoep het ek gesien hoe ons ma op die Singer naaldwerkmasjien, n sagte groen sy materiaaltjie met rekkies inryg.  Dit was so mooi vir my.  Dit was sag en groen en mooi.  "Dis n swemkostuum" antwoord sy saggies toe ek vra. Ek wonder waar gaan ons swem het ek gewonder ... in die watervoor voor ons huis op Witpoort miskien?  


Asof tyd nie bestaan en alles oornag gebeur is ons ewe skierlik in n groot tent in n kampterein saam met oupa en ouma. Elke dag loop ons oor n besige pad see toe.  Ons speel in die sand en ons lyfies getooi in ma se sysagte groen kostuumpies.    
Oupa en ouma is vreeslik verontwaardig want die ape dans op die dak van die tent en steel on kos.  Dis more en dis aand en ons kamp in Lourenco Marques in n groot tent by die see.


Veilig met my vet handjie in pa se groot, growwe hand stap ons deur die kamp.  Pa gesels met almal en almal gesels met ons pa.  So gesels, gesels loop ons by al die tente verby en die groot kamp le uitgestrek op die sand.  " Wat is jou naam?"  vra n man.  Ek is skierlik stom ... ek se niks ... ek kyk net en hou pa se hand stywer vas.  "Sy het nie n tong nie" se die man. "Waa"  se ek en steek my tong ver uit - met mening.  Skaterlag die oom en ek ... ek begin huil.   Snaaks hoe gemeenheid kinders skaad. Van al die goed in my ganse lewe onthou ek hierdie gemene daad vandag nog so helder soos daglig.


Ewe skierlik is pa weg.  Sommer net weg en heelwat later vind ons uit ons Pa het gaan jag.  Doer diep die binneland in het pa n buffel gaan soek.  Vir dae en dae is hy weg.  Bebsan, die groot Afrika man wat saam met sy vrou Botshu, saam kamp as kamp helpers - ook weg!  Dis net ma, oupa en ouma, jy met jou sagte sygroen kostuumpie en die ape wat dans op die tent se dak. As ons oor die besige straat see toe stap, kry ouma elke keer n soort stuipe.  Haar groot vrees is dat die karre ons so plat soos pannekoeke gaan ry en elke keer as ons veilig die straat kon oorsteek begin sy huil.  Jy tel skulpies op en maak mooi venstertjies in die sandkastele wat oupa bou.  


Laatnag, om die rooi kole vuur, luister ons jaar vir jaar na die stories van buffels en leeus en Bebsan in n boom. Ons voel hoe yskoue hande ons klein hartjies vol vrees druk as ons pa weer en weer die stories vertel.  Kom sit hier langs my dan vertel ek vir jou n storie - my sussie! 






Comments