DIE SWEMGAT
Dis winter! Winter vakansie op “Park”. Almal is op “Park” ma, pa, al die sussies … tot die hanslammers is hier. “Park” ons bosveldplaas daar in die arm van
die Kliprivier.
Die Kliprivier kom daar bo uit die
berge. Die berge rondom Dullstroom. Die rivier se water is koud … yskoud! Die naam - Kliprivier pas soos n handskoen. Groot tweeverdieping graniet rotse le gestrooi
soos kinder boublokkies op die rivierbedding.
Een of twee keer n jaar - as dit goed reen bo-op die berge - brul en stoom n bruin massa water met die
rivierbedding af tot doer onder waar dit die Steelpoortrivier groet. Elke keer as die rivier so vol word, speel
die vloedwater met die groot granietblokke en die groot bruisende, bruin water
stoei en stapel nog meer reuse klippe op mekaar. Amper soos n kind wat speel met sy Lego
blokkies.
Hierdie rivier is ons kleintyd, ons grootword, speelplek. In die diep, donker watergat aan die onderkant
van die lemoenboord word ons groot! Die swemgat
le diep en donker daar onder waar die rivier nou word. Reuse swart graniet klippe staan soos wagte
op die wal. Aan die oorkant van die swemgat
le nog meer groot, gladde klippe, net kleiner en ronder. Soos n vere bed sag en warm le daar n wit kombers
van riviersand, oral tussen die klippe. Op
hierdie riviersand kombers, word bruin lyfies nog bruiner in die goue bosveld
son.
In die rotse aan die linkerkant
van die swemgat maak n groot, grys likkewaan homself tuis. Soms le die gedierte en bak op die klippe, in
die laat middag son. Sodra hy ons gewaar
plons hy met a groot geraas in die diep groen water in, en seil dan blitsvinnig
uit op die sandbank aan die oorkant. Vir
ons is hierdie monster likkewaan n groot, groot gevaar. Soms, is die likkewaan aan die slaap en dan
ewe skierlik as hy wakker word van ons geraas, plons hy verskrik, hier tussen ons gladde lywe in.
Het jy al ooit gevoel hoe n yskoue
hand jou hart vasvat en in n oomblik … al die bloed uitdruk? Uitdruk soos n uitgesuigte lemoen. Wel omtrent, ongeveer dieselfde gevoel is wat
jy voel as jy twaalf jaar oud is en jy swem in n diep, donker swemgat en n
likkewaan plons in die water hier langs jou in … amper op jou! Vreesaanjaend, verskriklik,
vreeslik! Amper so bang soos ons was vir
die likkewaan - was die likkewaan vir ons. Tussen swaaiende arms en bene, vol
bors gille en nat lywe probeer ons uitklim op die sandbank aan die oorkant, terwyl
n doodverkrikte likkewaan probeer om dieselfde te doen, op dieselfde tyd. Vir jare het ek gewens ek het n kamera gehad
op hierdie oomblik op hierdie plek. Drie
nat lywe en n groot, grys likkewaan in een swemgat kan nooit, ooit maatjies
word nie!
Grootword op “Park” ons bosveldplaas
daar in die arm van die Kliprivier – “a rite of passage”. Ek kyk na die kinders in die klas hier om
my. Van likkewane en diep, donker
swemgate weet hulle niks … van die reuk van die reen op “Park” se sand weet
hulle niks en van grootword daar ver anderkant die blouberge weet hulle
helemal, absoluut niks! Hoe dankbaar is ek vir n ma en n pa en sussies wat ken
van n bosveldplaas daar in die arm van die Kliprivier en n diep, donker swemgat
waar n likkewaan in die laat agtermiddag op n klip le en bak!
Comments
Post a Comment
COMMENTS