KOM EET VANAAND BY ONS: MY MA MAAK DIE LEKKERSTE MELKSNYSELS
My ma kon so lekker melksnysels maak. Sommer so gou-gou sou sy n groot pot op die stoof he, dan moes een van ons dit roer want dit wou altyd aanbrand en aangebrande melksnysels kon jy maar weg gooi, want dit was glad nie lekker nie. Ek onthou hoe sy my geleer het om melksnysels te maak daar in die kombuis op die plaas. In die een hoek het n tafel gestaan. Dit was n klein tafeltjie waarop ons kon klits en uitrol en goeters meng. "Jy vat een eier en een koppie meel, se my ma vir my. Dan vryf jy die eier in die koppie meel in en dan druk jy die stywe deeg aanmekaar om n balletjie te maak. "Ek weet dis styf" se my ma maar dit moet so wees. Nou rol jy dit op in n rolletjie en dan sny jy dit met n skerp, skerp mes sulke ringetjies. Hou jou vinger so voor teen die deeg dat jou ringetjies dun is. As al die ringetjies klaar is strooi jy bietjie meel op en dan lig jy die ringetjies in die lug op sodat hulle nie vas klou aanmekaar nie en dan gooi jy dit in jou melk. In die groot kastrol melk sit jy een of twee stokkies kaneel vir die geur. Nou moet jy kop hou en aanmekaar roer want jy wil nie he die melksnysels moet oorkook of vaskook nie.
So kom ek toe een vakansie van Durban af op die plaas kuier. In my onnoselgeid en ewe oulik se ek toe vir die tannie wat in die poskantoor werk op Laersdrift: "Kom eet vanaanad by ons ... my ma maak die heerlikste melksnysels"
Verbaas is my ma en verbaas is my pa toe ek hulle vertel die tannie van die poskantoor kom vanaand by ons melksnysels eet. "Mens vra nie sommer wildvreemde mense om by jou te kom eet nie. Dit word net nie gedoen nie".
Teen laat middag dek ek die groot kombuistafel vir my pa, my ma, vir my, vir die tannie van die poskantoor en vir die oom van die tannie. Ek sit n groot kastrol melk op met n paar stokkies kaneel daarin. Stadig vryf ek die eier in die meel met n klein knippie sout en ek druk dit aanmekaar om n stywe deeg te vorm. Op die blad van die klein tafeltjie in die hoek rol ek dit uit met die honderd jaar oue rolstok, rol dit op en sny dit in klein ringetjies. Ek hou my vinger voor teen aan die rand want ek wil nie dik hompe vir snysels he nie. My ma het my mooi geleer.
Om en om roer ek die melksnysels op die rooi, warm koolstoof. Die snysels wil-wil net oor die rand klim maar stadig aan word dit dikker en lyk meer soos melksnysels. Skierlik is daar n klop aan die deur. My pa se: " ek dink hulle is hier" en ewe skierlik staan die tannie van die poskantoor en haar man voor ons in ons eie kombuis. Ewe gesellig sit ons aan by die groot kombuistafel en voor ons stoom die melksnysels bruin onder kaneelsuiker en die plaasbotter glimlag geel in die hoek van die bord. My oupa het altyd vir melksnysels gese: "slinger om die smoel ... Hannie maak vir ons bietjie slinger om die smoel vanaand vir aandete".
Saam eet is een van die lekkerste dinge op aarde. Om n bord melksnysels word vreemde mense sommer vriende ... ja selfs die tannie van die poskantoor!
My ma kon die heerlikste melksnysels maak en nou kan ek ook melksnysels maak!
Comments
Post a Comment
COMMENTS