AGAROB DIE SWERWER BOESMAN


Op ons bosveld plaas in die draai van die Kliprivier word ons elke wintervakansie so wild soos Kahlahari boesmans. Ek moet eers bietjie terug loop tot die dag nadat die skool gesluit het vir die wintervakansie om n bietjie agtergrond te gee. 

Vroeg, vroeg begin my pa om die groot Thames lorrie te laai. Eers kom die sakke mieliemeel vir die beeswagters, dan die beesdip in groot kanne heel agter in die hoek, dan al die hans lammers, die honde en heel laasste ons drie sussies.  My oudste sussie het altyd voor by my ma en pa gesit ... want sy was statig!

Die eerste stop was by tant Mina se winkel. Ons het nooit veel gekoop daar nie, af en toe kon ons n bottel tamatiesous koop vir die lemoene se geld. My pa het ons lemoene daar afgelaai. Tant Mina het dan die sakkies lemoene verkoop, maar sy het nooit vir my pa die geld gegee nie. My pa kon iets koop op die lemoene se geld.

Voor in die winkel was n staalkas met deure wat kraak as mens dit oopmaak. Binne in die kas was daar biblioteekboeke. Tonne en tonne biblioteek boeke. Heinz Konsalik, "Trados die Boesman Swerwer", "Trompie en die Boksembende" en nog soveel ander dat elkeen van ons gereeld met arms vol boeke daar weg is.

Dit het omtrent n uur gevat vanaf die winkel op Laersdrift, oor Roossenekal,  by dokter Snyders se plaas verby tot by die uitdraaipaadjie anderkant die warmbad. Dan nog n uur se ry tot by die plaashuis. 

Die Thames het gebrul aan die nege myl tot by die huis. Bult op en bult af en soms moes ons almal uitklim en pad maak.

Uiteindelik, kon ons die lemoenbloeisels ruik en by die ou wa het ons geweet ... nou is ons naby.

So snuk, snuk het die groot ou Thames lorrie sy staan gemaak onder die koelte boom voor die trappe. Van ver af het die beeswagters die gedreun van die lorrie gehoor en teen die tyd wat die Thames sy staan gemaak het  was Gagare klaar daar met die sleutel van die huis.

Nou was dit eers huis skoon maak tyd. Al die kamers moes uitgevee word, vensters moes oopgemaak word, matrasse uitgevat word en buite is die stof uitgeslaan. Teen agtermiddag was alles spiek en span en kon ons in die rivier gaan swem.

Die grootste lekker was om saans te le en lees. Onder die kombers met kerslig het ons boek op boek verorber. Soms kon my pa die lig sien oor die balke, dan kom kyk hy kwaad, kwaad hoekom ons nie slaap nie. 

"Trados die Boesman swerwer" het so ingekruip in ons menswees dat ons die karakters in die boek geword het. My een sussie was Pinapple, die ander sussie was Strawberry en ek was Agarob. 

Ons het ure en ure omgespeel. Gejag met handgemaakte pyl en boog, kaal uitgetrek en ons lywe met modder gesmeer want ons was regte boesmans ... Kalahari boesmans wat water drink uit volstruis doppe, klein stringetjies vleis oor die kole braai en om en om met kaalvoete spoortjies uit trap om die vuur!.

Grootword en wild word soos Kalahari boesmans - op Park - het my gemaak wat ek is. Agarob, die swerwer boesman. As ek swaarkry hier in die vreemde, ver - land, maak ek my oe styf toe en dans om en om ... n kaalvoet kind op n plaas daar in die arm van die Kliprivier!

Comments

Popular Posts